Leesrooster 12-06-22

Hierdie week se tekste:

  • Psalm 8
  • Romeine 5:1-5
  • Johannes 16:12-15
  • Spreuke 8:1-4, 22-31

Psalm 8

Lof aan die Skepper
1Vir die koorleier: met musiek. ‘n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!

Romeine 5:1-11

Die vrug van die vryspraak
1God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ‘n regverdige nie. Ja tog, vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Johannes 16:12-15

12“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Spreuke 8:1-4, 22-31

1Dit is Wysheid self wat roep,
dit is Insig wat haar stem laat hoor.
2Op die hoogtes langs die pad,
by die kruispaaie, gaan sy staan,
3langs die stadspoorte, by die ingange,
skree sy dit uit:
4“Ek roep na julle, mense, ek roep na alle mense:
5Dié wat ervaring kortkom, kan verstandig word,
dié wat dwaas optree, kan insig kry.
6Luister, want wat ek sê, is die moeite werd,
elke woord van my is opreg.
7Ek praat net die waarheid,
ek het ‘n afsku van wat verkeerd is.
8Elke woord uit my mond kan die toets deurstaan,
nie een het ‘n verkeerde of vals bedoeling nie.
9Mense wat insig het, weet dat ek reguit praat,
wie die kennis het, weet wat ek sê, is reg.
10Aanvaar wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer;
kennis is meer werd as die fynste goud.
11Ek, Wysheid, is kosbaarder as edelstene;
wat jy ook al as baie werd beskou,
teen my weeg dit nie op nie.
12“Ek, Wysheid, het die verstand,
ek het die kennis en die skranderheid.
13Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is.
Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid,
‘n verkeerde lewe en slinkse woorde.
14Wie my het, het raad en behaal sukses,
ek verleen insig, ek is die een wat die mag gee.
15Met my hulp regeer konings goed
en laat maghebbers reg geskied;
16met my hulp heers die mense wat mag het,
die leiers, elkeen wat reg regeer.
17Ek het dié lief wat my liefhet;
dié wat my soek, vind my.
18Wie my het, het rykdom en eer,
het duursame en blywende besittings.
19Wat ek vir jou lewer,
is beter as goud, selfs fyn goud;
wat ek inbring,
is meer werd as die suiwerste silwer.
20Waar ek gaan, is daar geregtigheid,
my pad is dié van die reg.
21Ek maak dié wat my liefhet, ryk,
ek maak hulle skure vol.
22“Die Here het my geskep, Hy het met my begin;
ek is die eerste wat Hy gemaak het, lank, lank gelede.
23Ek is lankal daar, van die begin af,
voor die aarde daar was.
24Ek het gekom toe die groot waters nog nie daar was nie,
toe daar nog nie fonteine vol water was nie.
25Voor die berge hulle plek gekry het,
voor die rante het ek al gekom,
26voor die Here die aarde met sy vlaktes gemaak het,
voor Hy selfs die eerste grond gemaak het.
27Ek was daar toe Hy die hemelgewelf opgerig het,
toe Hy die horison oor die see afgemerk het,
28toe Hy die wolke daarbo gesit het,
die fonteine onder die diep water laat uitborrel het.
29Ek was daar toe Hy vir die see sy grens vasgestel het,
die waters aan sy wil onderwerp het,
toe Hy die fondamente van die aarde afgesteek het.
30Ek het my kennis by Hom gekry,
ek was elke dag sy vreugde;
die hele tyd het ek dit by Hom geniet.
31Ek het my verlustig in die wêreld wat Hy gemaak het,
die mense was vir my ‘n vreugde.