Leesrooster 12-05-24

Hierdie week se tekste:

  • Johannes 17:6-19
  • Handelinge 1:15-17, 21-26
  • Psalm 1
  • 1 Johannes 5:9-13

Johannes 17:6-19

6“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.
9“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. 11Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe.
“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word.
13“Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. 14Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 15Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 17Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. 18Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; 19en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.

Handelinge 1:15-17, 21-26

15In daardie tyd was daar ‘n byeenkoms van die sowat honderd en twintig gelowiges. Petrus het die leiding geneem en gesê: 16-17“Broers, die Skrifwoord wat die Heilige Gees tevore by monde van Dawid oor Judas uitgespreek het, moes vervul word. Hy is as een van ons gereken en is ook gekies om ‘n aandeel in ons werk te hê, maar hy het die gids geword van dié wat vir Jesus gevange geneem het.
18“Met die geld wat Judas vir sy misdaad gekry het, het hy ‘n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul. 19Dit het bekend geword onder al die inwoners van Jerusalem. Daarom word die plek in hulle taal Akeldama genoem. Dit beteken Bloedgrond.
20“In die boek van die Psalms staan daar:
“Laat sy woonplek leeg word;
laat niemand daarin woon nie,
“en:
“Laat ‘n ander sy amp oorneem.
21-22“Daar moet dus nog ‘n getuie van Jesus se opstanding by ons gevoeg word. Dit moet een van die manne wees wat saam met ons rondgegaan het die hele tyd toe die Here Jesus in die openbaar opgetree het, vandat Hy deur Johannes gedoop is totdat Hy van ons af in die hemel opgeneem is.”
23Hulle stel toe twee voor: Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem word, en Mattias. 24En die gelowiges het gebid: “Here, U wat die harte van almal ken, wys die een aan wat U uit hierdie twee verkies het 25om as apostel te dien in die plek wat Judas leeg gelaat het toe hy gegaan het na waar hy hoort.”
26Hulle het geloot, en die loting het vir Mattias aangewys. So is hy gekies as die twaalfde apostel.

Psalm 1

Die Here lei die regverdiges
1Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie ‘n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
6Waarlik,
die Here lei die regverdiges op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

1 Johannes 5:9-13

9Ons aanvaar mense se getuienis, hoeveel te meer die getuienis van God, want dit is God wat getuig, en die getuienis handel oor sy Seun. 10Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. 11En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. 12Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.
Die doel van die brief
13Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.