Leesrooster 12-02-23

Hierdie week se tekste:

Sesde Sondag na Advent

  • Deuteronomium 30:15-20
  • Psalm 119:1-8
  • 1 Korintiërs 3:1-9
  • Matteus 5:21-37

Deuteronomium 30:15-20

15 “Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. 16 As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17-18 Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. 19 Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. 20 Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

Psalm 119:1-8

U woord vergeet ek nie

1 Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe,

dié wat wandel volgens die woord van die Here.

2 Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam,

dié wat met hulle hele hart sy wil doen,

3 geen onreg pleeg nie

en in sy weë wandel.

4 U het u bevele gegee

dat dit ten volle uitgevoer moet word.

5 As ek tog maar net op ‘n vaste koers kan bly

en my aan u voorskrifte kan hou!

6 As ek al u gebooie in ag neem,

sal ek nooit raad-op wees nie.

7 U bepalings is regverdig;

as ek hulle ter harte neem,

sal ek U loof met ‘n opregte hart.

8 Ek sal my aan u voorskrifte hou:

moet my tog nooit verlaat nie.

1 Korintiërs 3:1-9

Die oorsaak van die verdeeldheid

1 Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus. 2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, 3 want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie? 4 As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en ‘n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

5 Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. 6 Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. 7 Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. 8 Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.

9 Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.

Matteus 5:21-37

Versoening

21 “Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

23 “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, 24 laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

25 “As iemand ‘n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ‘n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. 26 Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

Kuisheid

27 “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

29 “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30 Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”

Egskeiding

(Matt. 19:9Mark. 10:11-12Luk. 16:18)

31 “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ‘n skeibrief gee.’ 32 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Die aflê van ‘n eed

33 “Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ‘n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’ 34 Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ‘n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; 35 nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. 36 Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ‘n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. 37 Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”