Leesrooster 12-01-25

  • Jesaja 43:1-7
  • Psalm 29
  • Handelinge 8:14-17
  • Lukas 3:15-17; 21-22

Jesaja 43:1-7

Jy is Myne
1Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.
2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,
deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
3want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte as losprys vir jou,
Kus en Seba in jou plek.
4Omdat jy vir My kosbaar is,
omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.
Ek is by jou.
Ek bring jou kinders van die ooste af,
Ek maak hulle bymekaar van die weste af,
6Ek sê vir die noorde: Gee!
vir die suide: Moet hulle nie terughou nie!
Bring my seuns van ver af,
my dogters van die uithoeke van die aarde af,
7elkeen wat na my Naam genoem word,
elkeen wat Ek geskep het tot my eer,
wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.

Psalm 29

Die stem van die Here is magtig
1’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink oor die waters.
Dit is die magtige God wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon bokspring soos ‘n kalf en die Sirjon soos ‘n jong bees.
7Die stem van die Here laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn bewe.
9Die stem van die Here laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.
In sy paleis roep almal uit: “Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.

Handelinge 8:14-17

14Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die woord van God aanvaar het, het hulle vir Petrus en Johannes daarheen gestuur. 15Dié het toe gegaan en vir die mense daar gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, 16want die Gees het nog nie op een van hulle gekom nie; hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop. 17Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Lukas 3:15-17; 21-22

15Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. 16Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 17Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

Die doop van Jesus(Matt. 3:13-17; Mark. 1:9-11)
21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”