Leesrooster 11-12-22

Hierdie week se tekste:

Derde Sondag van Advent – Jaar A

  • Jesaja 35:1-10
  • Psalm 146
  • Jakobus 5:7-10
  • Matteus 11:2-11

Jesaja 35:1-10

God kom julle red
1Die woestyn, die dor land,
sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille;
2hy sal in volle bloei staan,
hy sal juig en sing,
hy sal die prag van die Libanon hê,
die skoonheid van Karmel en Saron.
Israel sal die mag van die Here sien,
die koninklike mag van ons God.
3Bemoedig dié wie se hande slap hang,
help dié wie se knieë knik,
4sê vir dié wat moed verloor het:
“Wees sterk, moenie bang wees nie,
julle God is hier, Hy kom om wraak te neem,
om julle vyande te straf; God kom julle red!”
5Blindes sal kan sien,
dowes sal kan hoor,
6lammes sal kan rondspring soos takbokke,
stommes sal kan sing.
Strome water sal uit die woestyn uit bars;
daar sal riviere loop in die droë wêreld.
7Die verskroeide aarde sal ‘n moeras word,
dorsland waterryke wêreld.
Waar daar nou net vir jakkalse lêplekke is,
sal gras en riet en biesies groei.
8Daar sal ‘n grootpad deur die woestyn loop
en dit sal bekend staan as die gewyde pad.
Onrein mense sal nie daarop loop nie,
dit sal net wees vir mense wat reg lewe;
dwase sal nie meer op die pad kom nie.
9Daar sal nie leeus op die pad wees nie,
daar sal nie roofdiere op loop nie,
hulle sal glad nie daar kom nie.
Net die mense wat deur die Here gered is,
sal die pad gebruik.
10Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer,
hulle sal juigend in Sion aankom,
hulle sal altyd straal van blydskap,
hulle sal vol vreugde en blydskap wees;
ellende en smart sal verdwyn.

Psalm 146

Prys die Here!
1Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ‘n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom, hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd.
Sion, jou God regeer van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Jakobus 5:7-10

Volharding
7Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. 8Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. 9Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. 10Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld. 11Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.

Matteus 11:2-11

1Toe Jesus klaar was met die opdragte aan sy twaalf dissipels, het Hy daarvandaan weggegaan om die mense in hulle dorpe te leer en vir hulle te preek.
Jesus en die vraag van Johannes die Doper
(Luk. 7:18-35)
2Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge ‘n boodskap aan Hom gestuur om te vra: 3“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”
4Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: 5Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. 6En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”
7Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na ‘n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? 8Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ‘n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry ‘n mens in koninklike paleise. 9Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as ‘n profeet. 10Dit is hy van wie daar geskrywe staan:
“ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit;
hy sal die pad vir jou regmaak.’
11“Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.