Leesrooster 11-09-22

  • Jeremia 4:1-11; 22-28
  • Psalm 51:1-10
  • 1 Timoteus 1:12-17
  • Lukas 15:1-10

Jeremia 4:1-11; 22-28

1As jy jou wil bekeer, Israel,

moet jy jou tot My bekeer, sê die Here.

As jy jou afskuwelike afgode voor My wegvat,

moet jy nie meer dwaal nie.

2Wanneer jy ‘n eed aflê en sê: “So seker as die Here leef,”

moet dit in waarheid wees,

moet jy reg laat geskied en reg doen.

Dan sal die nasies hulle seën van die Here verwag

en in Hom roem.

3So sê die Here vir die mense van Juda en Jerusalem:

Ploeg vir julle ‘n braakland

en moenie in die dorings saai nie.

4Wy julle aan die diens van die Here,

en verwyder alle ontrou uit julle harte,

mense van Juda, inwoners van Jerusalem,

sodat my toorn oor julle bose dade nie losbreek soos ‘n vuur

en bly brand sonder dat dit geblus word nie.

‘n Ramp kom uit die noorde

5Vertel dit in Juda, maak dit in Jerusalem bekend en sê:

“Blaas die ramshoring in die land!”

Roep hard en sê:

“Kom bymekaar, laat ons in die vestingstede ingaan!”

6Swaai die vaandel: Na Sion toe!

Soek veiligheid, moenie talm nie!

Ek, die Here, laat onheil uit die noorde kom, ‘n groot ramp.

7Die leeu het opgestaan uit sy lêplek,

die vernietiger van die nasies is op pad,

hy het uit sy blyplek uitgegaan om jou land te verwoes.

Jou stede sal in puin lê, sonder inwoners.

8Daarom, trek rouklere aan, huil en kerm,

want die toorn van die Here rus nog op ons.

9Daardie dag, sê die Here,

sal die koning en die amptenare se moed hulle begewe,

die priesters sal verslae staan

en die profete sal nie weet waarheen nie.

10Toe sê ek: “Ag, Here my God!

U het hierdie volk en Jerusalem bedrieg.

U het gesê: ‘Julle sal vrede hê,’

maar nou lê die swaard teen ons kele.”

11Daardie tyd sal daar vir hierdie volk en vir Jerusalem gesê word:

‘n Gloeiende wind kom oor die heuweltoppe

uit die woestyn uit op my volk af,

maar nie om die kaf weg te waai en die koring skoon te waai nie.

22My volk tree dwaas op, hulle erken My nie,

hulle is moedswillige kinders, sonder enige begrip van wat Ek doen.

Hulle is net slim as dit kom by verkeerddoen,

van goeddoen wil hulle niks weet nie.

23Ek het na die land gekyk, en dit was onbewoonbaar,

na die hemel, en die lig was daaruit weg;

24ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe,

na al die heuwels, en hulle het geskud.

25Ek het gekyk, en daar was geen mens nie,

selfs die voëls het weggevlieg.

26Ek het gekyk, en die vrugbare grond het in woestyn verander,

al die stede het in puin gelê.

Dit is die Here wat dit in sy gloeiende toorn gedoen het!

27Ja, so sê die Here:

Die hele land sal verwoes wees,

maar Ek sal dit nie totaal vernietig nie.

28Daaroor moet die aarde treur

en die hemel daarbo donker word,

want Ek het my voorneme bekend gemaak,

Ek staan by my besluit, Ek sal nie van plan verander nie.

Psalm 51:1-10

1Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid, na aanleiding daarvan 2dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba.

3Wees my genadig, o God, in u troue liefde,

wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!

4Was my skoon van my skuld,

reinig my van my sonde!

5Ja, my oortredings ken ek

en van my sonde bly ek altyd bewus.

6Teen U alleen het ek gesondig,

ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

U uitspraak is dus reg

en u oordeel regverdig.

7Ek was al skuldig toe ek gebore is,

met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.

8Maar U verwag opregtheid diep in ‘n mens se hart:

laat ek dan diep in my binneste weet

hoe U wil dat ek moet lewe.

9Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees,

was my dat ek witter as sneeu kan wees.

10Laat my weer blydskap en vreugde belewe.

U het my verbrysel; laat my weer jubel.

1 Timoteus 1:12-17

12Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, 13al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. 14Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

15Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. 16Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ‘n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. 17Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Lukas 15:1-10

1Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

3Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: 4“Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. 5En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. 6As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’ 7Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Die gelykenis van die verlore muntstuk

8“Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie ‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? 9En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’ 10Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”