Hierdie week se tekste:
- 2 Konings 2:1-12
- Psalm 50:1-6
- 2 Korintiërs 4:3-6
- Markus 9:2-9
2 Konings 2:1-12
Elia word in die hemel opgeneem
1Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in ‘n stormwind in die hemel sou opneem.
Elia en Elisa het uit Gilgal vertrek, 2en Elia het vir Elisa gesê: “Bly hier, want die Here stuur my na Bet-El toe.”
Elisa se antwoord was: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle is toe na Bet-El toe. 3Die profete wat in Bet-El was, het na Elisa toe gegaan en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
4Elia sê toe vir Elisa: “Bly hier, want die Here stuur my na Jerigo toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle het saam in Jerigo aangekom. 5Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: “Weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?”
Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.”
6Elia sê toe vir hom: “Bly hier, want die Here stuur my na die Jordaan toe.”
Maar Elisa het geantwoord: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie alleen laat gaan nie.”
Hulle twee is toe saam verder.
7’n Vyftigtal van die profete is agterna en het op ‘n afstand gaan staan regoor die plek waar Elia langs die Jordaan gestaan het.
8Elia het sy mantel gevat, dit opgerol en die water daarmee geslaan. Die water het na links en na regs verdeel, sodat hulle twee op droë grond daar deur is. 9Net toe hulle deur is, sê Elia vir Elisa: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen voordat ek van jou af weggevat word?”
Elisa het geantwoord: “Mag daar tog ‘n dubbele deel van u gees op my kom!”
10Toe sê Elia: “Dis ‘n moeilike ding wat jy vra. As jy my sien wanneer ek van jou af weggevat word, mag dit dan met jou gebeur; maar as jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”
11Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ‘n wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ‘n stormwind op, die hemel in. 12Toe Elisa dit sien, het hy uitgeroep: “My vader, my vader, u was vir Israel die strydwa met sy ruiters!”
Psalm 50:1-6
Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red
1’n Psalm van Asaf.
Die Here is God, Hy alleen is God.
Hy spreek, Hy roep die hele wêreld op,
van waar die son opkom tot waar hy ondergaan.
2Uit Sion, stad van volmaakte prag,
verskyn God in glans.
3Ons God kom, Hy bly nie stil nie.
Voor Hom uit brand ‘n vuur,
rondom Hom woed ‘n storm.
4Hy roep die hemel en die aarde op vir die saak teen sy volk:
5“Maak bymekaar dié wat aan My getrou is
en met ‘n offer ‘n verbond met My gesluit het.”
6Die hemel getuig: “God is regverdig, en Hý is die regter.”
Sela
2 Korintiërs 4:3-6
3As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met ‘n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. 4Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. 5Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. 6God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.
Markus 9:2-9
Die verheerliking op die berg
(Matt. 17:1-8; Luk. 9:28-36)
2Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, 3en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. 4Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.
5Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
6Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.
7Daar het toe ‘n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ‘n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”
8En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle.