Hierdie week se tekste:
- Rut 3:1-5; 4:13-17
- Psalm 127
- Hebreërs 9:24-28
- Markus 12:38-44
Rut 3:1-5; 4:13-17
Rut en Boas by die dorsvloer
1Rut se skoonma Naomi het vir haar gesê: “My dogter, dit is my verantwoordelikheid om vir jou ‘n heenkome te soek sodat dit met jou goed kan gaan. 2Kyk, Boas saam met wie se werksters jy gewerk het, is mos familie van ons. Hy dors vannag gars op die dorsvloer. 3Was jou, maak jou mooi en trek jou netjies aan en gaan na die dorsvloer toe. Moenie dat hy jou gewaar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. 4Wanneer hy gaan slaap, sorg dat jy weet waar hy gaan lê. Dan gaan jy soontoe en kruip by sy voete in. Hy sal jou dan sê wat jy moet doen.”
5Toe antwoord Rut: “Ek sal doen wat u gesê het.”
Hoofstuk 4: Die lossingsprosedure. Huwelik. Die geboorte van Obed
4:13 Boas het toe met Rut getrou en hy het gemeenskap met haar gehad. Die Here het haar swanger laat word, en Rut het ‘n seuntjie in die wêreld gebring. 14Die vrouens sê toe vir Naomi: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het. Mag die losser se naam bekend wees in Israel, 15en mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg. Jou skoondogter wat jou liefhet en wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom in die wêreld gebring.”
16Naomi het toe die seuntjie op haar skoot gevat en as haar eie aangeneem.
17Haar buurvroue het die seuntjie toe ‘n naam gegee. Hulle het hom Obed genoem en gesê: “’n Seun is vir Naomi gebore.”
Obed was die voorvader van Dawid.
Psam 127
As die Here die huis nie bou nie
1’n Pelgrimslied. Van Salomo.
As die Here die huis nie bou nie,
swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie,
waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.
2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan
en laat gaan slaap
om met moeite ‘n bestaan te maak.
Vir dié wat Hy liefhet,
gee die Here dit in hulle slaap.
3Seuns is geskenke van die Here,
kinders word deur Hom gegee.
4Soos pyle in die hand van ‘n krygsman,
so is seuns wat gebore is toe hulle vader nog jonk was.
5Dit gaan goed met die man wat sy pylkoker so gevul het!
Sulke mense het niks te vrees
as hulle met die vyand in die stadspoort onderhandel nie.
Hebreërs 9:24-28
Christus die volkome offer
23Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. 24Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ‘n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. 25Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. 26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 27’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. 28So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.
Markus 12:38-44
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes
(Matt. 23:1-36; Luk. 20:45-47)
38Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word, 39wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê. 40Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.”
Die arm weduwee se gawe
(Luk. 21:1-4)
41Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. 42Daar het toe ‘n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. 43Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. 44Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”