Leesrooster 10-03-24

Hierdie week se tekste:

  • Numeri 21:4-9
  • Psalm 107
  • Johannes 3:14-21
  • Efesiërs 2:1-10

Numeri 21:4-9

Die koperslang
4Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword 5en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”
6Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf. 7Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”
Moses het toe vir die volk gebid, 8en die Here het vir Moses gesê: “Maak ‘n beeld van ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”
9Moses het toe ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit. As iemand wat deur ‘n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.

Psalm 107

1“Loof die Here, want Hy is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.

17Party het dwaas opgetree,
en deur hulle rebelse optrede, hulle sonde,
het hulle in die ellende beland.
18Alle kos het hulle laat walg,
en hulle het by die dood omgedraai,
19maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp,
en Hy het hulle bevry van hulle ellende.
20Hy het hulle met ‘n enkele woord gesond gemaak,
hulle aan die dood laat ontkom.
21Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen.
22Hulle moet dankoffers bring
en met blydskap van sy dade getuig.

Johannes 3:14-21

14Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.
16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Efesiërs 2:1-10

Lewe uit die dood
1Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.
3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.
8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het