- Genesis 1:1-5
- Psalm 29
- Handelinge 19:1-7
- Markus 1:4-11
Genesis 1:1-5
God se skeppingswerk
1In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.
3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!”En daar was lig.
4God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. 5God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.
Psalm 29
Die stem van die Here is magtig
1’n Psalm van Dawid.
Prys die Here, julle hemelinge!
Prys die Here om sy eer en mag!
2Prys die Here om die eer van sy Naam!
Buig voor die Here by sy heilige verskyning!
3Die stem van die Here weerklink oor die waters.
Dit is die magtige God wat die weer laat dreun;
die Here self is op die groot waters!
4Die stem van die Here is magtig,
die stem van die Here is vol majesteit.
5Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop.
6Hy laat die Libanon bokspring soos ‘n kalf en die Sirjon soos ‘n jong bees.
7Die stem van die Here laat weerlig uitslaan.
8Die stem van die Here laat die woestyn bewe.
Die Here laat die Kadeswoestyn bewe.
9Die stem van die Here laat die wildsbokke ruk van skrik;
dit stroop die bosse kaal.In sy paleis roep almal uit: “Hoe geweldig!”
10Die Here heers oor die watermassas,
Hy heers vir altyd as koning.
11Die Here gee krag aan sy volk;
die Here seën sy volk met oorvloed.
Handelinge 19:1-7
Paulus in Efese
1Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binneland gereis en in Efese gekom. Daar het hy ‘n groepie gelowiges gekry 2vir wie hy gevra het: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?”
“Ons het nog nie eens gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,” het hulle geantwoord.
3“Watter soort doop het julle dan ontvang?” vra hy toe.“Die doop van Johannes,” antwoord hulle.
4Daarop sê Paulus: “Johannes het die mense gedoop as hulle hulle bekeer het. Maar hy het vir die volk gesê dat hulle in die Een moet glo wat ná hom kom, dit is in Jesus.”
5Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop. 6Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer. 7Hulle was altesaam omtrent twaalf.
Markus 1:4-11
4Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 5Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.
6Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 7Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. 8Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”
Jesus word gedoop(Matt. 3:13-17; Luk. 3:21-22; Joh. 1:29-34)
9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”