Leesrooster – 09-04-23

  • Handelinge 10:34-43
  • Psalm 118:1-2; 14-24
  • Kolossense 3:1-4
  • Lukas 24:13-49

Handelinge 10:34-43

34Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal. 37Julle weet ook van die gebeurtenisse dwarsdeur die hele Joodse land. Dit het in Galilea begin ná die doop wat Johannes verkondig het. 38Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by om.

39“En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. 40Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, 41nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. 42Hy het ons opdrag gegee om aan die volk te verkondig en te bevestig dat dit Hy is wat deur God aangestel is as Regter oor lewendes en dooies. 43Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Psalm 118:1-2; 14-24

1Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!

2Israel moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

3Die huis van Aäron moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

4Dié wat die Here dien, moet getuig: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

14Die Here is my krag en my beskerming.
Dit is Hy wat my gered het!
15Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars:
“Die Here doen kragtige dade,
16die Here triomfeer,
die Here doen kragtige dade!”
17Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe
en van die dade van die Here getuig.
18Die Here het my swaar gekasty,
maar my nie aan die dood oorgegee nie.
19Maak die tempelpoort vir my oop:
ek wil ingaan en die Here loof.
20Dit is die poort na die Here toe;
regverdiges mag daardeur ingaan.
21Ek wil U loof omdat U my gebed verhoor
en my gered het.
22Die klip wat deur die bouers afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.
23Dit is deur die Here gedoen
en is ‘n wonder in ons oë!
24Dit is die dag wat die Here gemaak het;
laat ons daaroor juig en bly wees.

Kolossense 3:1-4

1Van Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.2Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

ONS DANK GOD VIR JULLE
3Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle 4omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. 

Lukas 24:13-49

DIE EMMAUSGANGERS
13Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na ‘n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. 14Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. 15Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, 16maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. 17Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”

Met somber gesigte gaan hulle staan, 18en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”

19Hy vra vir hulle: “Watter dinge?”

Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, ‘n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22En nou het ‘n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ‘n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

25Toe sê Hy vir hulle: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”

27Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

28Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”

33Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, 34en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”

35Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.

JESUS VERSKYN AAN DIE DISSIPELS
(Matt. 28:16-20; Mark. 16:14-18; Joh. 20:19-23; Hand. 1:6-8)
36Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”

37Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees. 38Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? 39Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?” 42Hulle gee Hom toe ‘n stuk gebakte vis. 43Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ 48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”