Leesrooster 09-02-25

  • Jesaja 6:1-8
  • Psalm 138
  • 1 Korintiërs 15:1-11
  • Lukas 5:1-11

Jesaja 6:1-8

Jesaja word geroep om profeet te wees
1In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

3Die serafs het mekaar telkens toegeroep:“Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”
4Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

5Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”6Een van die serafs het toe ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”

8Toe het ek die Here hoor vra:“Wie kan Ek stuur?Wie sal ons boodskapper wees?”Ek het geantwoord:“Hier is ek! Stuur my!”

Psalm 138

Die Here is hoog verhewe
1Van Dawid.
Ek wil U met my hele hart loof.
Laat die gode maar hoor; dit is tot u eer dat ek sing.
2Ek wil na u heilige tempel toe buig en u Naam roem om u liefde en trou,
want U het u Naam en u woord bo alles gestel.
3Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee.
4Al die konings van die aarde sal U loof, Here, wanneer hulle u woord hoor,
5hulle sal sing oor wat die Here gedoen het, want die mag van die Here is groot.
6Ja, al is die Here hoog verhewe, Hy gee om vir die nederige,
maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige.
7As die nood my oorval, hou U my in die lewe teen die woede van my vyande in:
U strek u hand uit,u regterhand red my.
8Die Here sal vir my alles goed laat afloop.
Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie.
Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.

1 Korintiërs 15:1-11

Die opstanding van Christus
1Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. 2Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.

3Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. 5Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, 6en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. 8Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.

9Ek is immers die geringste van die apostels en is nie werd om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het. 10Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is.

11In elk geval, of dit ek is of hulle – dit is wat ons verkondig, en dit is wat julle geglo het.

Lukas 5:1-11

Die roeping van die eerste dissipels(Matt. 4:18-22; Mark. 1:16-20)
1Op ‘n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor, 2sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel. 3Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit ‘n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer.

4Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.” 5“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.”

6En toe hulle dit doen, het hulle so ‘n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur. 7Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.

8Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens.”9 Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. 10Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.”

11En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.