Hierdie week se tekste:
- Jesaja 35:4-7a
- Psalm 146
- Jakobus 2:1-17
- Markus 7:24-37
Jesaja 35:4-7a
4 sê vir dié wat moed verloor het:
“Wees sterk, moenie bang wees nie,
julle God is hier, Hy kom om wraak te neem,
om julle vyande te straf; God kom julle red!”
5 Blindes sal kan sien,
dowes sal kan hoor,
6 lammes sal kan rondspring soos takbokke,
stommes sal kan sing.
Strome water sal uit die woestyn uit bars;
daar sal riviere loop in die droë wêreld.
7 Die verskroeide aarde sal ‘n moeras word,
dorsland waterryke wêreld.
Waar daar nou net vir jakkalse lêplekke is,
sal gras en riet en biesies groei.
Psalm 146
Prys die Here!
1 Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2 Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
3 Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ‘n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4 Sy asem verlaat hom, hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5 Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.
6 Die Here het die hemel en die aarde gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7 Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8 die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9 Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad vir die goddeloses.
10 Die Here regeer vir altyd.
Sion, jou God regeer van geslag tot geslag.
Prys die Here!
Jakobus 2:1-17
Moenie volgens die uiterlike oordeel nie
1 My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2 Sê nou daar kom in julle samekoms ‘n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ‘n brandarm man in met ou klere aan, 3 en sê nou julle maak ‘n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” 4 het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?
5 Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6 Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7 Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8 As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10 As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. 11 God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog ‘n oortreder van die hele wet. 12 Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vrymaak. 13 Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.
Glo en doen
14 Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? 15 Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17 So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.
Markus 7:24-37
Die Siro-Fenisiese vrou
(Matt. 15:21-28)
24 Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in ‘n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie. 25 ‘n Vrou wie se dogtertjie van ‘n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval. 26 Hierdie vrou was ‘n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. 27 Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”
28 Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”
29 Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”
30 Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit.