Leesrooster 08-05-22

  • Handelinge 9:36-43
  • Psalm 23
  • Openbaring 7:9-17
  • Johannes 10:22-30

Handelinge 9:36-43

 36In Joppe was daar ‘n gelowige vrou met die naam Tabita, in Grieks Dorkas. Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help. 37Juis in die tyd toe Petrus in Lidda was, het sy siek geword en gesterwe. Hulle het haar gewas en in ‘n bokamer neergelê. 38Aangesien Lidda naby Joppe is en die gelowiges gehoor het dat Petrus daar is, het hulle twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom tog gou na ons toe oor.”
39Petrus het dadelik saam met hulle gegaan en toe hy daar kom, het hulle hom na die bokamer toe geneem. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog gelewe het. 40Nadat Petrus almal uitgestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy na die liggaam gedraai en gesê: “Tabita, staan op!”
Sy het haar oë oopgemaak en toe sy vir Petrus sien, het sy regop gesit. 41Hy het haar met die hand help opstaan, die weduwees en die ander gelowiges geroep en haar lewend voor hulle gebring. 42Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.43Petrus het geruime tyd daar in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier.

Psalm 23

1’n Psalm van Dawid.
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
2Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.
3Hy gee my nuwe krag.
Hy lei my op die regte paaie
tot die eer van sy Naam.
4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig
.5U laat my by ‘n feesmaal aansit,
terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos ‘n eregas,
ek word oorlaai met hartlikheid.
6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly
en ek sal tuis wees in die huis van die Here
tot in lengte van dae.

Openbaring 7:9-17

9Hierna het ek ‘n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. 10Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”
11Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12en gesê:
“Amen! Die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God
tot in alle ewigheid. Amen!”
13Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?”
14“Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.”Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam. 15Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ‘n hittegloed ook nie, 17want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”

Johannes 10:22-30

22Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. 23Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop. 24Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.”25Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. 26Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. 27My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een.”