Hierdie week se tekste:
- 2 Samuel 5:1-5, 9-10
- Psalm 123
- 2 Korintiërs 12:2-10
- Markus 6:1-13
2 Samuel 5:1-5, 9-10
Dawid word gesalf tot koning oor Israel(Vgl. 1 Kron. 11:1-3)
1Hierna het al die Israelitiese stamme na Dawid toe in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal u eie mense! 2In die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here het vir u gesê:“Jy moet vir my volk Israel ‘n herder wees;ja, jy moet heerser oor Israel wees!”
3So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het koning Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here ‘n verdrag met hulle gesluit. Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf. 4Dawid was dertig toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar geregeer. 5In Hebron was hy sewe en ‘n half jaar koning oor Juda, en in Jerusalem drie en dertig jaar oor die hele Israel en Juda.
Psalm 123
Ek sien na U op
1’n Pelgrimslied.
Ek sien na U op,
U wat uit die hemel heers.
2Soos die oë van ‘n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van ‘n slavin
gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm.
3Ontferm U oor ons, Here, ontferm U oor ons,
want ons het meer as genoeg veragting gehad,
4meer as genoeg spot van oormoedige mense,
veragting van hovaardiges.
2 Korintiërs 12:2-10
2Ek ken ‘n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. 3-4Ek weet ook dat hierdie man weggeruk is na die paradys toe. Of dit met die liggaam was of sonder die liggaam, weet ek nie, net God weet dit. Daar het hy woorde gehoor wat ‘n mens nie kan of mag uitspreek nie. 5Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie, behalwe oor my swakhede. 6Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, 7selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. 8Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. 9Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. 10Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.
Markus 6:1-13
Jesus word in Nasaret verwerp(Matt. 13:53-58; 9:35; Luk. 4:16-30)
1Jesus het daarvandaan weggegaan. Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en sy dissipels was saam met Hom. 2En toe die sabbatdag aanbreek, het Hy die mense in die sinagoge begin leer. Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp. Hulle het vir mekaar gesê: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? 3Is hy dan nie ‘n timmerman, ‘n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”Die mense wou niks van Hom weet nie.
4Jesus sê toe vir hulle: “’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.”
5Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op ‘n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het. 6Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense.Daarna het Hy by die dorpies in die omtrek rondgegaan en die mense daar geleer.
Jesus stuur die twaalf uit(Matt. 10:1,5-15; Luk. 9:1-6)
7Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. 8Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net ‘n kierie – geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. 9Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog ‘n kledingstuk saamvat nie. 10Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in ‘n plek kom en in ‘n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. 11En as ‘n plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.”
12Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. 13Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak.