Hierdie week se tekste:
- 1 Petrus 2:2-10
- Handelinge 7:55-60
- Psalm 31
- Joh 14:1-14
1 Petrus 2:2-10
Die volk van God, gebou op die kosbare hoeksteen
1Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery. 2Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. 3Julle het immers ondervind dat die Here goed is. 4Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. 5Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. 6Daarom staan daar in die Skrif:“Kyk, Ek lê in Sion ‘n hoekklip, uitverkies vir die ereplek.Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” 7Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde:“Die klip wat deur die bouers afgekeur is,juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword”8en:“’n klip waaroor ‘n mens struikel en ‘n rots waarteen jy jou stamp.”Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem. 9Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 10Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.
Handelinge 7:55-60
Stefanus word gestenig
54Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op hulle tande gekners. 55Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.
56“Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”57Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm, 58hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by ‘n jongman met die naam Saulus. 59Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!”
60Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!”Met hierdie woorde het hy gesterwe.
Psalm 31
My tye is in u hand
1Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid.
2By U, Here, skuil ek.
Laat my tog nooit teleurgestel staan nie! Bevry my, want U is getrou.
3Luister na my, red my tog gou.
Wees vir my ‘n rots om na toe te vlug,’
n bergvesting om my te red.
4Ja, U is my rots en my bergvesting,
ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.
5Bevry my uit die vangnet wat hulle vir my gestel het,
want U is my toevlug.6In u hande gee ek my lewe oor,
want, Here, troue God, U het my vrygemaak.
7Ek haat mense wat waarde heg aan die nikswerd afgode;
my vertroue stel ek in die Here.
8Ek wil jubel en juig oor u troue liefde:
U was nie onverskillig teenoor my ellende nie;
U het die bedreiging van my lewe raakgesien
9en my nie aan die mag van die vyand oorgelewer nie;
U het my ‘n veilige staanplek gegee.
10Wees my genadig, Here, want ek is in die nood;
van verdriet het my oë swak geword,ja, alles in my.
11My lewe vergaan van kommer
en my jare van swaarkry;
deur my ellende word my krag geknak
en teer my liggaam uit.
12Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure, ‘n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien, vlug vir my.
13Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos ‘n ding wat lê en vergaan.
14Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.
15Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande en vervolgers!
17Verskyn tog tot my redding,
red my deur u onfeilbare liefde.
18Here, laat my nie teleurgestel staan in my verwagting as ek U aanroep nie.
Laat die goddelose teleurgestel staan in hulle verwagting,
laat hulle die stilte van die doderyk ingaan.
19Bring die leuenaars tot swye,
dié wat vol is van hulleself en in hoogmoed en veragting teen die regverdige praat.
20Hoe groot is u goedheid:
dit is altyd daar vir dié wat U dien,
U bewys dit voor die oë van die mense aan dié wat by U skuil.
21Deur u teenwoordigheid beskerm U hulle teen die sameswering van mense.
U steek hulle weg vir dié wat vir hulle beskuldig.
22Aan die Here kom die lof toe,
want Hy het sy trou op wonderbaarlike wyse aan my betoon toe ek beleër was.
23Ek het in my angs gedink:
Dit is klaar met my, selfs U het my verwerp.
Tog, U het geluister na my gesmeek
toe ek na U om hulp geroep het.
24Betuig julle liefde vir Hom,
julle almal wat die guns van die Here geniet.
Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is,
maar dié wat teen Hom opstandig is,straf Hy swaar.
25Wees dus sterk en hou goeie moed,
julle almal wat julle vertroue in die Here stel.
Johannes 14:1-14
Jesus gaan na sy Vader toe
1“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”
5Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?” 6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” 9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen.
11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self. 12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”