Hierdie week se tekste:
- Jesaja 60:1-6
- Psalm 72:1-14
- Efesiërs 3:1-12
- Matteus 2:1-12
Jesaja 60:1-6
1 “Staan op, laat jou lig skyn!
Ja, jou lig het gekom,
en die heerlikheid van die Here
skyn oor jou.
2 Ja, kyk, donkerte bedek die aarde,
en diepe duisternis die volke;
maar oor jou skyn die Here,
en oor jou word sy heerlikheid sigbaar.
3 Nasies sal na jou lig trek,
en konings na die helder lig
van jou sonsopkoms.
4 Kyk om jou rond en neem waar:
Hulle almal kom byeen,
hulle kom na jou toe.
Jou seuns – van ver af kom hulle aan;
en jou dogters – op die heup
word hulle gedra.
5Dan sal jy dit sien en jy sal straal;
jou hart sal vinniger klop,
ruim word.
Want die see se oorvloed
sal by jou uitgestort word;
die nasies se rykdom
sal na jou toe kom.
6’n Magdom kamele sal jou oordek,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal uit Skeba sal kom.
Goud en wierook sal hulle dra;
die goeie nuus van die Here
se lofwaardige dade sal hulle verkondig.
Psalm 72:1-14
1Van Salomo.
O God, gee u beslissings aan die koning,
u geregtigheid aan die seun
van die koning.
2Mag hy u volk
met geregtigheid oordeel,
u magteloses met billikheid.
3Mag die berge vrede bring vir die volk,
en die heuwels geregtigheid.
4Hy sal die magteloses
van die volk se regte handhaaf,
die kinders van behoeftiges verlos,
maar onderdrukkers verpletter.
5Hulle sal vir U ontsag hê
solank die son en die maan
nog daar is, vir geslagte lank.
6Mag die koning wees soos reën
wat neerdaal op ‘n gesnyde grasveld,
soos reënbuie wat die aarde deurweek.
7In sy tyd sal regverdiges floreer,
daar sal vrede in oorvloed wees
tot die maan nie meer daar is nie.
8Mag hy heers van see tot see,
van die Rivier tot aan
die uithoeke van die aarde.
9Voor hom sal die woestynbewoners kniel,
en sy vyande sal stof lek.
10 Die konings van Tarsis
en die eilande sal belasting betaal;
die konings van Skeba en Seba
sal skatplig lewer.
11Al die konings sal diep
voor hom buig,
al die nasies sal hom dien;
12want hy sal behoeftiges
wat om hulp roep, uitred,
ook magteloses en mense
wat nie helpers het nie.
13Hy sal deernis hê met hulpeloses
en behoeftiges;
die lewens van behoeftiges sal hy bevry.
14Van onderdrukking en geweld
sal hy hulle lewe vrykoop.
Hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
Efesiërs 3:1-12
Paulus se dienswerk onder die heidene
1Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van •Christus Jesus, ter wille van julle, die heidene.
2Julle het tog gehoor dat die taak van die bediening van God se genade teenoor julle aan my toevertrou is. 3 Deur openbaring is die geheimenis aan my bekend gemaak, soos ek reeds kortliks geskryf het. 4Wanneer julle dit lees, sal julle daardeur my insig in die geheimenis van Christus kan begryp. 5Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige •apostels en profete geopenbaar is nie, 6 naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. 7Van dié evangelie het ek ‘n dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag. 8Aan my, minder as die geringste van al die •heiliges, is hierdie genade geskenk, om aan die heidene die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig, 9en om almal in te lig wat die uitvoering van die geheimenis is wat vir eeue lank verborge was in God, wat alle dinge geskep het. 10Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die •kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word, 11ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here. 12 In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, ‘n seker en vrymoedige toegang tot God. 13Daarom versoek ek julle om nie moedeloos te word as gevolg van my verdrukking ter wille van julle nie. Dit sal julle tot eer strek.
Matteus 2:1-12
Sterrekenners uit die Ooste
1Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk, daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. 2Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” 3Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom. 4En nadat hy al die leierpriesters en skrifkenners uit die volk bymekaargeroep het, het hy by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het vir hom gesê: “In Betlehem, Judea, want so staan daar deur die profeet geskryf,
6 “ ‘En jy, Betlehem,
in die grondgebied van Juda,
jy is glad nie die geringste
onder die regeerders van Juda nie;
want uit jou sal daar ‘n leier kom
wat my volk Israel as herder sal lei. ’ ”
7Daarop het Herodes die sterrekenners in die geheim ontbied, noukeurig by hulle navraag gedoen oor wanneer die ster verskyn het, 8en hulle toe na Betlehem gestuur met die opdrag: “Gaan vind noukeurig alles oor die Kindjie uit; en wanneer julle Hom gekry het, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en aan Hom eer bewys.”
9Nadat hulle gehoor het wat die koning sê, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, het voor hulle uit beweeg totdat dit tot stilstand gekom het reg bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar. 11Nadat hulle die huis binnegegaan het, het hulle die Kindjie by Maria, sy moeder, gesien en neergekniel en aan Hom eer bewys. Toe het hulle hulle skatte oopgemaak en vir Hom geskenke aangebied: goud, wierook en mirre. 12En omdat hulle in ‘n droom ‘n waarskuwing van God ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad langs na hulle land teruggegaan.