Leesrooster 06-11-22

Hierdie week se tekste:

  • Lukas 20:27-38
  • Haggai 1:15b-2:9
  • Psalm 145:1-5, 17-21
  • 2 Tessalonisense 2:1-5, 13-17

Lukas 20:27-38

Die vraag oor die opstanding uit die dood
(Matt. 22:23-33; Mark. 12:18-27)

27’n Aantal Sadduseërs – dit is die mense wat ontken dat daar ‘n opstanding uit die dood is – kom toe nader en vra vir Jesus: 28“Meneer, Moses het vir ons voorgeskryf: As iemand ‘n getroude broer het wat kinderloos sterwe, moet hy met sy broer se weduwee trou en vir sy broer kinders verwek. 29Nou was daar sewe broers. Die oudste het getrou en kinderloos gesterwe. 30Ook die tweede 31en die derde het met die weduwee getrou en kinderloos gesterwe, en so het dit met al sewe gegaan. 32Daarna het die vrou ook gesterwe. 33Die vrou nou, wie se vrou word sy met die opstanding? Al sewe het haar mos as vrou gehad.”
34Jesus sê vir hulle: “In hierdie wêreld trou die mense met mekaar, 35maar dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld en aan die opstanding uit die dood, trou daar nie meer nie. 36Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. 37Dat die dooies opgewek word, het Moses ook aangedui waar hy in die gedeelte oor die doringbos praat van ‘die Here, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob’. 38Hy is nie ‘n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.”
39Toe sê sommige van die skrifgeleerdes: “Meneer, u het goed geantwoord.”
40Hulle het nie meer gewaag om Hom ‘n enkele vraag te stel nie.

Haggai 2:1-9

My Gees sal altyd by julle bly
1Op die een en twintigste van die sewende maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius, het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: 2Vra tog vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het: 3Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige nie?
4Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. 5My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!
6So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe. 7Dan sal Ek al die nasies laat wakker skrik en hulle sal met hulle skatte kom en so sal Ek hierdie huis met rykdom vul, sê die Here die Almagtige. 8Aan My behoort al die silwer, aan My al die goud, sê die Here die Almagtige. 9Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.

Psalm 145:1-5, 17-21

Ek wil getuig van u magtige dade
1’n Loflied van Dawid.
Ek wil u lof verkondig,
my God en Koning,
ek wil u Naam altyd loof.
2Elke dag wil ek U loof,
ek wil u Naam altyd prys.
3Die Here is groot, alle lof kom Hom toe,
sy grootheid is ondeurgrondelik.
4Geslag na geslag prys wat U doen
en vertel van u magtige dade,
5van die luister, die heerlikheid van u majesteit.
Ek wil getuig van u magtige dade,

17Die Here is regverdig in al sy handelinge,
getrou in alles wat Hy doen.
18Die Here is naby almal wat Hom aanroep,
almal wat Hom in opregtheid aanroep.
19Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra,
Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle.
20Die Here beskerm almal wat Hom liefhet,
maar al die goddeloses verdelg Hy.
21Ek sal die lof van die Here verkondig.
Laat al wat leef, sy heilige Naam vir altyd prys.

2 Tessalonisense 2:1-5, 13-17

Die wettelose mens
1En nou, broers, wat betref die wederkoms van ons Here Jesus Christus en ons hereniging met Hom, het ek ‘n ernstige versoek aan julle: 2Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word as iemand vir julle sou sê die dag van die Here is al hier nie – of dit nou vir julle gesê word in ‘n profetiese uitspraak of in ‘n preek of in ‘n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees. 3Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. 4Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.
5Onthou julle nie dat ek dit herhaaldelik vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?

Aan God die dank
13Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. 14Hy het julle hiertoe geroep deur die evangelie wat ons aan julle verkondig het, sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van ons Here Jesus Christus.
15Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ‘n brief was.
16-17En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ‘n blywende troos en goeie hoop gegee.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.