Hierdie week se tekste:
- Genesis 2:18-24
- Psalm 8
- Hebreërs 1:1-4; 2:5-12
- Markus 10:2-16
Genesis 2:18-24
18Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”
19Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.
20Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ‘n helper, ‘n gelyke, gekry nie. 21Toe het die Here God ‘n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ‘n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ‘n vrou en bring haar na die mens toe.
23Toe sê die mens:
“Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek.
Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word;
sy is uit die man geneem.”
24Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.
25Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.
Psalm 8
Lof aan die Skepper
1Vir die koorleier: met musiek. ‘n Psalm van Dawid.
2Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
3Kinders en suigelinge besing die magtige werk
wat U tot stand gebring het.
So word u teëstanders,
die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.
4As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het,
5wat is die mens dan
dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?
6U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak
en hom met aansien en eer gekroon,
7U laat hom heers oor die werk van u hande,
U het alles aan hom onderwerp:
8skape en beeste, alles;
selfs die diere in die veld,
9die voëls in die lug,
en die visse in die see
wat die oseane deurkruis.
10Here, ons Here,
hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
Hebreers 1:1-4, 2:5-12
Die uitnemende grootheid van die Seun van God
1In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. 3Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. 4Hy is net so verhewe bo die engele as wat die Naam wat God Hom gegee het, voortrefliker is as hulle naam.
Markus 10:2-16
2Daar het ook Fariseërs gekom, en om Hom op die proef te stel, het hulle Hom gevra: “Mag ‘n man van sy vrou skei?”
3Hy het daarop vir hulle gevra: “Wat het Moses julle beveel?”
4“Moses het toegelaat dat iemand ‘n skeibrief opstel en skei,” het hulle geantwoord.
5Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy hierdie bepaling vir julle gemaak het. 6Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’ 7‘Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, 8en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. 9Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.”
10In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. 11Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ‘n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. 12En as ‘n vrou van haar man skei en met ‘n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”
Jesus seën die kindertjies
(Matt. 19:13-15; Luk. 18:15-17)
13Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. 14Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 15Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”
16Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën