Hierdie week se tekste
- Johannes 14:8-17
- Handelinge 2:1-21
- Psalm 104
- Romeine 8:14-17
Johannes 14:8-17
8Toe sê Filippus vir Hom: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”
9En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? 10Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.
12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
Die Heilige Gees sal by julle bly
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
Handelinge 2:1-21
Die uitstorting van die Heilige Gees
1Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.
5Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6Toe die mense die geluid hoor, het ‘n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? 9Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, 11Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”
12Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”
13Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”
Petrus se toespraak op die pinksterdag
14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:
17“Só sal dit in die laaste dae wees, sê God:
Ek sal my Gees uitstort op alle mense:
julle seuns en julle dogters sal as profete optree;
julle jongmense sal gesigte sien;
julle oumense sal drome droom.
18Ja, op my dienaars en my dienaresse
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal as profete optree.
19Ek sal tekens bo in die lug
en wonders onder op die aarde gee:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal pikdonker word
en die maan bloedrooi
voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.
21So sal dit dan wees:
elkeen wat die Naam van die Here aanroep,
sal gered word.
Psalm 104
Ek wil my in die Here verbly
1Ek wil die Here loof!
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met ‘n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel soos ‘n tentdoek gespan
3en vir U ‘n woonplek ingerig het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
6Die groot waters het die aarde soos ‘n kleed oordek,
die waters het bo-oor die berge gestaan.
7Maar toe U die waters aanspreek, het hulle gevlug,
voor die krag van u stem het hulle die wyk geneem.
8Hulle het oor die berge gespoel
en in die laagtes weggevloei
na die plek toe wat U vir hulle bestem het.
9U het ‘n grens gestel waaroor hulle nie mag gaan nie:
hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
10U laat fonteine in die valleie ontspring
en tussen die berge deur stroom.
11Daar kom al die wilde diere drink
en die wildedonkies hulle dors les.
12Die voëls maak hulle neste langs die water
en kwetter tussen die takke.
13Uit die hemel laat U dit op die berge reën,
die aarde word versadig deur die reën wat U gee.
14U laat gras uitspruit vir die diere,
en groen plante vir die mens
sodat hy sy kos uit die aarde kan kry:
15wyn om mense se harte bly te maak,
olie om die gesig te versorg,
kos om die mens nuwe krag te gee.
16Die bome van die Here kry volop reën,
die seders op die Libanon, dié wat Hy geplant het,
17waar die voëls hulle neste maak,
en die reier sy huis in die boomtoppe bou.
18Die hoë berge is ‘n tuiste vir die klipbokke,
die rotse is ‘n skuilplek vir die dassies.
19U het die maan gemaak om die vaste tye mee aan te gee,
die son weet wanneer om onder te gaan.
20As U die donker bring en dit nag word,
roer al die diere in die bos.
21Die leeus brul op soek na prooi:
hulle vra hulle kos van God.
22As die son opkom, sluip hulle weg
en gaan lê in hulle skuilplekke.
23Dan gaan die mens na sy werk toe,
en hy werk tot die aand.
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
25Daar is die see, groot en wyd,
wat wemel van diere, klein en groot.
26Daar vaar die skepe,
en daar is die Leviatan.
U het hom gemaak om mee te speel.
27Hulle is almal van U afhanklik,
U gee hulle kos op hulle tyd.
28U gee, en hulle eet,
U maak u hand oop, en hulle kry meer as genoeg.
29Maar as U U terugtrek, is dit klaar met hulle,
as U hulle asem wegneem, is hulle dood
en word hulle weer stof.
30U gee die lewensasem en daar is lewe;
ook uit die grond laat U nuwe lewe spruit.
31Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf,
32Hy wat na die aarde kyk, en dit bewe,
wat die berge aanraak, en hulle brand.
33Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.
34Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
35Mag die sondaars van die aarde af verdwyn,
mag die goddeloses ophou om te bestaan!
Ek wil die Here loof.
Prys die Here!
Romeine 8:14-17
14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.