Hierdie week se tekste:
Tweede Lydensondag
- Genesis 12:1-4a
- Psalm 121
- Romeine 4:1-5, 13-17
- Matteus 17:1-9
Genesis 12:1-4a
Die roeping van Abram
1Die Here het vir Abram gesê:
“Trek uit jou land uit,
weg van jou mense en jou familie af
na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
2Ek sal jou ‘n groot nasie maak,
Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak,
en jy moet tot ‘n seën wees.
3Ek sal seën wie jou seën,
en hom vervloek wat jou vervloek.
In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”
4Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek. Abram was vyf en sewentig toe hy uit Haran weggetrek het.
Psalm 121
My hulp kom van die Here
1’n Pelgrimslied.
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar vir my hulp kom?
2My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.
3Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie;
Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.
4Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie
en Hy slaap nie.
5Die Here beskerm jou,
die Here bewaar jou van alle gevare.
6Bedags sal die son jou nie steek nie
en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie.
7Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar,
jou lewe sal Hy beskerm.
8Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan,
nou en vir altyd.
Romeine 4:1-5, 13-17
Die voorbeeld van Abraham
1Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? 2As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy ‘n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! 3Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 4’n Arbeider se loon word nie vir hom as ‘n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. 5Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.
Matteus 17:1-9
Die verheerliking op die berg
(Mark. 9:2-8; Luk. 9:28-36)
1Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg gebring waar hulle alleen was. 2Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. 3Skielik het Moses en Elia aan hulle verskyn en met Jesus gepraat.
4Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
5Terwyl hy nog praat, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”
6Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval. 7Maar Jesus het na hulle toe gekom, hulle aangeraak en gesê: “Staan op en moenie bang wees nie.”
8Toe hulle opkyk, het hulle niemand gesien nie, net Jesus alleen
9Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle beveel: “Wat julle gesien het, moet julle vir niemand vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgewek is nie.”