Hierdie week se tekste:
Vyfde Sondag na Advent
- Jesaja 58:1-12
- Psalm 112:1-10
- 1 Korintiërs 2:1-16
- Matteus 5:13-20
Jesaja 58:1-12
1Die Here sê:
Roep uit volle bors,
moet niks verswyg nie!
Laat jou stem hoor, duidelik soos ‘n ramshoring!
Wys my volk op hulle oortredinge,
die afstammelinge van Jakob op hulle sondes.
2Hulle vra wel elke dag na my wil,
asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag.
Hulle gee voor dat hulle ‘n nasie is wat doen wat reg is
en hom aan die bepalings van sy God hou.
Hulle vra My wel om regverdige beslissings
asof hulle van my teenwoordigheid hou.
3Hulle vra:
“Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?”
Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil
en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk.
4Julle vasdae loop uit op twis en rusie,
julle dam mekaar met die vuis by.
Julle kan nie op hierdie manier vas
en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie.
5Is dit ál wat Ek op ‘n vasdag wil hê:
net dat ‘n mens homself verneder,
dat hy sy nek buig soos ‘n biesie
en in sak en as sit?
Noem jy dít ‘n vasdag,
‘n dag waarvan die Here hou?
6Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie:
om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry,
om die juk wat op mense druk, af te haal,
om verdruktes vry te maak,
om elke juk te breek?
7Is dit nie dat jy vir dié wat honger is,
van jou brood gee nie,
dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie,
dat wanneer jy iemand sonder klere sien,
jy vir hom klere gee nie,
dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?
8Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag,
jy sal gou herstel.
Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan,
die mag van die Here sal agter jou aankom.
9Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord,
jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek!
As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie,
nie meer gedreig en vals beskuldig word nie,
10as jy jou wy aan dié wat honger het,
as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is,
sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is,
sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.
11Die Here sal jou altyddeur lei;
selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien.
Hy sal jou sterk maak.
Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water,
soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.
12Jou mense sal die ou puinhope herbou,
die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan.
Jy sal bekend staan as ‘n volk wat sy afgebreekte mure herbou,
wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.
Psalm 112:1-10
1Prys die Here!
Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien,
wat al sy vreugde vind in die gebooie van die Here.
2Sy nageslag is ‘n sterk krag in die land,
die geslag van die opregte word geseën:
3daar is oorvloed en rykdom in sy huis.
Wat hy doen, is reg en blywend:
4hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die opregtes,
hy is genadig, barmhartig en regverdig.
5Dit is ‘n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen
en in al sy sake reg optree.
6Die regverdige sal nooit wankel nie,
hy sal altyd onthou word.
7Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie,
hy is gerus, hy vertrou op die Here.
8Hy voel hom veilig, hy is nie bevrees nie:
hy sal die neerlaag van sy vyande aanskou.
9Hy gee mildelik vir die armes.
Wat hy doen, is reg en blywend.
Hy geniet hoë aansien.
10Die goddelose sien dit en raak ontsteld,
hy kners op sy tande van magteloosheid.
Van die begeertes van die goddelose kom daar niks.
1 Korintiërs 2:1-16
Paulus se prediking
1Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. 2Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. 3Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. 4Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. 5Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.
Die openbaring deur die Gees van God
6Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir dié wat daarvoor ryp is, en dan ‘n wysheid wat nie van hierdie wêreld is of van die heersers van hierdie wêreld nie. Hulle is buitendien aan die ondergaan. 7Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid. 8Nie een van die heersers van hierdie wêreld het hierdie wysheid geken nie. As hulle dit geken het, sou hulle nie die Here van die heerlikheid gekruisig het nie. 9Maar soos daar geskrywe staan:
“Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,”
en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie,
dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.
10Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. 11Watter mens ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God. 12Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. 13Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer.
So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het. 14Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word.
15Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie. 16Daar staan geskrywe:
“Wie ken die gedagtes van die Here?
Wie sal Hom raad gee?”
Maar ons, ons het die Gees van Christus.
Matteus 5:13-20
Die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld
(Mark. 9:50; Luk. 14:34-35)
13“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
14“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Die vervulling van die wet
17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.
19“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. 20Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”