Leesrooster 04-12-22

Hierdie week se tekste:

2de Sondag van Advent – Jaar A

  • Matteus 3:1-12
  • Jesaja 11:1-10
  • Psalm 72
  • Romeine 15:4-13

Matteus 3:1-12

Johannes die Doper en sy prediking
(Mark. 1:1-8; Luk. 3:1-9,15-17; Joh. 1:19-28)
1In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek 2en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” 3Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het:
“Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.”
4Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 5In dié dae het Jerusalem en die hele Judea en die hele omgewing van die Jordaan na hom toe gestroom. 6Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop.
7Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. 9Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 10Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 11Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 12Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.”

Jesaja 11:1-10

Die loot uit die stomp van Isai
1’n Takkie sal uitspruit
uit die stomp van Isai,
‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.
2Die Gees van die Here sal op hom rus:
die Gees wat wysheid en insig gee,
die Gees wat raad en sterkte gee,
die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.
3Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here.
Hy sal nie regspreek volgens uiterlike skyn nie
en nie oordeel volgens hoorsê nie.
4Hy sal die armes billik verhoor
en die ootmoediges in die land regverdig oordeel.
Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel,
met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring.
5Hy sal regverdig en betroubaar regeer.
6Wolwe en skape sal dan saam bly,
luiperds sal tussen bokkies lê,
kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees
en klein seuntjies sal vir almal sorg.
7Koeie en bere sal saam wei,
hulle kleintjies sal bymekaar lê,
leeus sal gras eet soos beeste.
8Babatjies sal by die gate van adders speel,
klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange.
9Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is.
10In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai ‘n vaandel wees vir die volke. Die nasies sal na hom vra, en sy woonplek sal hoë aansien geniet.

Psalm 72

Mag die koning lank lewe
1Van Salomo.
Leer tog die koning, o God,
om te regeer volgens u wil,
leer die koning om die reg te handhaaf
soos U dit wil,
2sodat hy regverdige beslissings oor u volk sal vel
en aan die verdruktes reg laat geskied.
3Laat berge en rante hulle verbly
oor die vrede en reg vir die volk.
4Laat die koning die reg van die verdruktes onder die volk beskerm,
laat hy armes te hulp kom en verdrukkers verbrysel,
5sodat die mense U kan dien so lank as die son
en die maan daar is, van geslag tot geslag.
6Mag die koning vir sy mense wees soos die reën vir die plante,
soos swaar reëns wat die aarde deurdrenk.
7Mag die reg onder sy regering floreer
en mag daar vir altyd groot voorspoed wees.
8Mag hy heers van see tot see,
van die Eufraat af tot in verre lande.
9Mag die woestynbewoners voor hom kniel
en sy vyande voor hom in die stof kruip.
10Mag die konings van Tarsis en die kuslande geskenke bring,
die konings van Skeba en Seba aan hom belasting betaal.
11Mag alle konings voor hom buig
en al die nasies hom dien.
12Hy sal die arme red wat om hulp roep,
die verdrukte en dié wat geen helper het nie;
13hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm,
die lewens van die arm mense beskerm.
14Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry;
hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë.
15Mag die koning lank lewe,
mag daar vir hom goud uit Skeba gebring word;
mag die mense gedurig vir hom bid
en die hele dag seënbedes vir hom uitspreek.
16Mag daar volop graan in die land wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees soos die Libanon,
die graan so geil opskiet soos gras in die veld.
17Mag die koning se naam altyd onthou word,
mag sy roem duur so lank as die son daar is,
sodat al die nasies hulle in sy regering verlustig en hom prys!
18Geloof sy God die Here, die God van Israel.
Dit is net Hy wat magtige dade doen!
19Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word,
mag die hele wêreld vol wees van sy majesteit.
Amen, ja, amen.
20Hier eindig die gebede van Dawid, seun van Isai.

Romeine 15:4-13

4Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. 5En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. 6Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.
Die evangelie is vir alle mense
7Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. 8Ek bedoel dít: Christus het gekom om in belang van die Jode ‘n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. 9Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan:
“Daarom sal ek U loof voor die nasies,
en tot eer van u Naam sal ek ‘n lofpsalm sing.”
10En elders lui dit:
“Verbly julle, ander nasies,
saam met sy volk.”
11En:
“Prys die Here, alle nasies!
Loof Hom, alle volke!”
12En Jesaja sê ook:
“Isai sal ‘n nakomeling hê,
en Hy sal opstaan om die nasies te regeer;
op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.”
13Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!