Leesrooster 04-09-22

Hierdie week se tekse:

  • Lukas 14:25-33
  • Deuteronomium 30:15-20
  • Psalm 1
  • Filemon 1:1-21

Lukas 14:25-33

Die eise van dissipelskap
(Matt. 10:37-38; vgl. Mark. 10:29-30)
25’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle: 26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.
28“Wie van julle wat ‘n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? 29Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. 30Hulle sal sê: ‘Hier is ‘n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.’
31“Of watter koning wat met ‘n ander koning in ‘n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie? 32Anders stuur hy ‘n afvaardiging om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.
33“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”

Deuteronomium 30:15-20

15“Ek het vandag die lewe en die voorspoed, die dood en die teenspoed aan jou voorgehou. 16As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem. 17-18Maar ek verkondig vandag aan julle: As jy van die Here af wegdraai en Hom nie gehoorsaam nie en as jy jou laat verlei om ander gode te vereer en te dien, sal julle almal omkom; julle sal nie lank bly woon in die land wat jy in besit gaan neem sodra jy deur die Jordaan getrek het nie. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. 20Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee.”

Psalm 1

Die Here lei die regverdiges
1Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie
en sondaars nie ‘n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
6Waarlik,
die Here lei die regverdiges op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

Filemon 1:1-21

1Van Paulus, ‘n gevangene ter wille van Christus Jesus, en van ons broer Timoteus.
Aan Filemon, ons vriend en medewerker, 2en aan ons suster Affia en aan Argippus, ons medestryder, en aan die gemeente wat gereeld in jou huis bymekaarkom.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Filemon se liefde en geloof
4Elke keer as ek bid, dink ek aan jou en dank ek my God 5omdat ek hoor van die liefde en trou wat jy aan die Here Jesus en al die gelowiges bewys. 6My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ‘n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen. 7Jou liefde het vir my groot vreugde en bemoediging gebring, omdat jy, broer, die harte van die gelowiges verkwik het.

Paulus pleit vir Onesimus
8Daarom, al het ek in Christus die volste reg om jou op jou plig te wys, 9doen ek liewer ‘n beroep op jou op grond van die liefde. Dit doen ek, Paulus, wat ‘n ou man is en nou ook ‘n gevangene ter wille van Christus Jesus. 10Ek doen ‘n beroep op jou in belang van my kind Onesimus. Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword. 11Voorheen was hy vir jou nie bruikbaar nie, maar nou is hy baie bruikbaar sowel vir jou as vir my.
12Ek stuur hom na jou toe terug, en my hart gaan saam met hom.
13Wat my betref, ek sou hom graag by my wou hou, sodat hy my in jou plek kan dien terwyl ek ter wille van die evangelie ‘n gevangene is. 14Maar ek wou niks sonder jou instemming doen nie, sodat jou weldaad nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse. 15Miskien was hy ‘n kort tydjie van jou af weg juis sodat jy hom vir altyd sou terugkry, 16nou nie langer net as ‘n slaaf nie, maar meer as ‘n slaaf: as ‘n geliefde broer. Dit is hy besonderlik vir my; hoeveel te meer sal hy dit dan nie vir jou wees nie, as mens en as broer in die Here.
17Dus, as jy my as deelgenoot in die geloof beskou, ontvang hom net soos jy my sou ontvang. 18As hy jou enige skade aangedoen het of iets skuld, sit dit op my rekening. 19Hier skryf ek, Paulus, met my eie hand: “Ek sal betaal.”
Ek hoef jou natuurlik nie daaraan te herinner dat wat jy is, jy aan my te danke het nie.
20Ja, broer, in die Naam van die Here, bewys my hierdie guns. Maak my hart bly, soos ‘n broer in Christus. 21Ek skryf aan jou in die vertroue dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet ook dat jy selfs meer as dit sal doen. 22Hou sommer ook vir my huisvesting gereed, want ek hoop dat God, in antwoord op julle gebede, my aan julle sal teruggee.

Groete en heilwense
23Epafras, wat saam met my ter wille van Christus Jesus ‘n gevangene is, stuur vir jou groete; 24ook my medewerkers Markus, Aristargos, Demas en Lukas stuur groete.
25Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees!