Leesrooster – 03-12-23

Hierdie week se tekste:

  • Jesaja 64:1-9
  • Psalm 80:1-7, 17-19
  • 1 Korintiërs 1:3-9
  • Markus 13:24-37

Jesaja 64:1-9

1As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom
sodat die berge voor U skud!
2Kom af soos ‘n vuur wat fynhoutjies laat brand,
soos ‘n vuur wat water laat kook.
Laat u Naam só aan u vyande bekend word,
laat die nasies só voor U bewe.
3Toe U wonders gedoen het,
wonders wat ons nie verwag het nie,
toe U destyds afgekom het,
het die berge voor U geskud.
4Van ouds af het niemand so iets gehoor nie,
het niemand so iets verneem nie,
het geen oog ‘n god gesien
wat vir dié wat op hom vertrou,
doen wat U doen nie.
5U kom dié te hulp wat met blydskap doen wat reg is,
dié wat onthou hoe U wil hê hulle moet lewe.
U was kwaad vir ons,
want ons het gesondig.
Ons het so lank daarmee aangehou,
hoe kan ons dan nog gered word?
6Ons het almal geword soos mense wat onrein is,
ons beste dade is soos vuil klere;
ons is almal soos verdroogde blare,
ons word deur ons sondes weggewaai soos deur ‘n wind.
7Daar is niemand wat tot U om hulp roep nie,
niemand wat sy krag in U soek nie.
U het ons aan onsself oorgelaat,
U laat ons wegkwyn deur ons sondes.
8U is ons vader, Here,ons is klei en U het ons gevorm,
ons is almal die werk van u hande.
9Moet tog nie aanhou kwaad wees vir ons nie, Here,
moenie ons sonde vir altyd teen ons hou nie,
onthou tog ons is almal u volk.

Psalm 80:1-7, 17-19

Verskyn tog tot ons redding
1Vir die koorleier: op die wysie van “Lelies”. ‘n Getuienis van Asaf. ‘n Psalm.
2Luister tog, Herder van Israel,
U wat die nageslag van Josef soos ‘n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon, verskyn tog aan ons!
3Openbaar u mag aan die stamme Efraim, Benjamin en Manasse,
kom help ons tog!
4Laat dit weer met ons goed gaan, o God,
verskyn tog tot ons redding!
5Here, almagtige God,
hoe lank nog sal U afsydig staan
teenoor die gebed van u volk?
6U het aan ons trane vir kos gegee
en ons ‘n beker vol verdriet laat drink.
7U laat ons bure teen ons veg,
en ons vyande lag oor ons…

17Laat dié wat hom soos onkruid verbrand het,
deur u oordeel te gronde gaan.
18Hou u hand oor die mense wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U vir U grootgemaak het.
19Dan sal ons nie weer van U af wegdraai nie.
Hou ons aan die lewe, dan sal ons u Naam aanroep!

1 Korintiërs 1:3-9

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Danksegging
4Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7dat dit julle nie aan ‘n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. 9God is getrou, Hy wat julle geroep het om verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.

Markus 13:24-37

Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens
(Matt. 24:29-31; Luk. 21:25-28)
24“Maar in daardie tyd,ná daardie verdrukking,
sal die son verduister worden die maan sal nie skyn nie;
25die sterre sal uit die ruimte val
en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.
26“Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit. 27En dan sal Hy die engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te bring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde af tot by die ander kant.”

Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom
(Matt. 24:32-35; Luk. 21:29-33)
28“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 29So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 30Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 31Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Die profetiese rede: die dag en uur van die wederkoms
(Matt. 24:36-44; Luk. 21:34-36)
32“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 33Wees op julle hoede; wees waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die tyd daar is nie. 34Dit is soos ‘n man wat ver weggegaan en sy huis onder beheer van sy slawe gelaat het. Hy het vir elkeen sy werk gegee en die deurwagter beveel om waaksaam te bly. 35Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, 36sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie. 37En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Bly waaksaam!”