Hierdie week se tekste
- Rut 1:1-18
- Psalm 119:1-8
- Hebreërs 9:11-14
- Markus 12:28-34
Rut 1:1-18
Uit Betlehem na Moab toe en terug
1In die tyd van die leiers was daar op ‘n keer hongersnood in die land, en ‘n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om ‘n heenkome te soek in die gebied van Moab. 2Die man was Elimelek, sy vrou Naomi, en sy twee seuns Maglon en Kiljon. Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. 3Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar twee seuns alleen agtergebly. 4Die twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut. Naomi en haar seuns het omtrent tien jaar in Moab gebly. 5Toe haar twee seuns Maglon en Kiljon ook sterf, het sy alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man. 6Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle ‘n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan. 7Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe.
8Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. 9Mag die Here vir julle elkeen weer ‘n goeie man en ‘n heenkome gee.”
Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil 10en vir haar gesê: “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.”
11Maar Naomi het weer vir hulle gesê: “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? 12Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by ‘n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, 13sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kon weerhou om te trou? Dit is onmoontlik, my dogters. Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai.”
14Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly. 15Toe sê Naomi: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar volk en na haar gode toe. Gaan jy nou ook saam met haar terug.”
16Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”
18Naomi het besef dat Rut vasbeslote was om saam met haar te gaan en sy het opgehou om haar te probeer ompraat. 19Hulle twee is toe saam na Betlehem toe. Met hulle aankoms in Betlehem was daar groot opgewondenheid in die stad, en die vrouens het gesê: “Maar dis mos Naomi!”
20Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.
Psalm 119:1-8
U woord vergeet ek nie
1Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe,
dié wat wandel volgens die woord van die Here.
2Dit gaan goed met dié wat sy verordeninge gehoorsaam,
dié wat met hulle hele hart sy wil doen,
3geen onreg pleeg nie
en in sy weë wandel.
4U het u bevele gegee
dat dit ten volle uitgevoer moet word.
5As ek tog maar net op ‘n vaste koers kan bly
en my aan u voorskrifte kan hou!
6As ek al u gebooie in ag neem,
sal ek nooit raad-op wees nie.
7U bepalings is regverdig;
as ek hulle ter harte neem,
sal ek U loof met ‘n opregte hart.
8Ek sal my aan u voorskrifte hou:
moet my tog nooit verlaat nie.
Hebreërs 9:11-14
11Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.
Markus 12:28-34
Die vraag oor die grootste gebod(Matt. 22:34-40; Luk. 10:25-28)
28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ‘n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”
29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”
32“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ 33En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”
34Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”Niemand het dit toe meer gewaag om Hom ‘n vraag te stel nie.