Leesrooster 03-07-22

Hierdie week se tekste:

  • 2 Konings 5:1-14
  • Psalm 30
  • Galasiërs 6:(1-6), 7-16
  • Lukas 10:1-11, 16-20

2 Konings 5:1-14

Naäman word genees van melaatsheid
1Naäman, die hoof van die leër van die koning van Aram, was ‘n gesiene man wat die agting van die koning geniet het. Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan Aram besorg. Die man was ‘n dapper soldaat, maar hy het melaats geword.
2Op een van hulle strooptogte het die Arameërs ‘n jong dogtertjie uit Israel ontvoer wat Naäman se vrou se bediende geword het. 3Sy het vir die vrou gesê: “Ag, as Meneer net by die profeet in Samaria kon uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid gesond maak.”
4Naäman het by die koning gekom en hom meegedeel wat die dogtertjie uit Israel gesê het.
5“Gaan gerus,” het die koning van Aram gesê, “ek stuur jou met ‘n brief na die koning van Israel toe.”
Hy het vertrek en drie honderd twee en veertig kilogram silwer, ag en sestig kilogram goud en tien stelle klere met hom saamgevat. 6Hy het die brief na die koning van Israel toe gebring. Dit het só gelui: “Ek het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur. Wanneer hy by jou uitkom, moet jy hom van sy melaatsheid gesond maak.”
7Toe die koning die brief gelees het, het hy sy klere geskeur en gesê: “Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hulle die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom van sy melaatsheid gesond te maak? Dit moet vir julle duidelik wees hy soek net skoor met my.”
8Elisa die man van God het te hore gekom dat die koning van Israel sy klere geskeur het en het ‘n boodskap aan die koning gestuur: “Hoekom het u u klere geskeur? Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ‘n profeet in Israel is.”
9Toe Naäman met sy wa en perde daar aankom, het hy stilgehou voor die deur van Elisa se huis. 10Elisa het ‘n boodskap na hom toe gestuur: “Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jy gesond word en rein wees.”
11Naäman het vererg weggery en gesê: “Ek het darem gedink hy sou uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem. 12Is die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?”
So het hy woedend daarvandaan teruggery.
13Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?”
14Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van ‘n klein seuntjie en hy was weer rein.

Psalm 30

Vir altyd sal ek U loof
1’n Psalm. ‘n Lied vir die inwyding van die tempel. Van Dawid.
2Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered
en my vyande nie laat bly wees oor my nie.
3Here my God, ek het na U geroep om hulp
en U het my gesond gemaak.
4Here, U het my gered van die doderyk,
my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe.
5Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien,
loof sy heilige Naam!
6Waarlik, sy toorn duur net ‘n oomblik,
maar sy goedheid lewenslank.
Gisteraand was daar nog trane
en vanmôre lag ek al weer.
7Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê:
“Niks sal my ooit laat wankel nie.”
8Deur u goedheid het U my op ‘n veilige berg laat staan, Here.
Maar toe U U aan my onttrek het,
het ek baie bang geword.
9Ek het na U geroep, Here.
Ek het U om genade gesmeek:
10“Watter voordeel is daar in my ondergang
as ek die graf moet ingaan?
Kan stof U loof?
Kan dit u trou verkondig?
11Luister, Here, en wees my genadig!
Help my, Here!”
12Ek was in die rou,
maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek
en vir my feesklere aangetrek.
13Daarom sal ek sing tot u eer;
ek sal nie stilbly nie.
Here my God, vir altyd sal ek U loof!

Galasiërs 6:(1-6), 7-16

Dra mekaar se laste
1Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. 2Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. 3As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy homself. 4Laat elkeen sy eie doen en late ondersoek: as dit goed is, kan hy daarop trots wees sonder om dit met dié van ‘n ander te vergelyk. 5Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het.
6Iemand wat onderrig ontvang in die woord van God, moet sy leermeester laat deel in al die goeie dinge wat hy het.

7Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. 8Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. 9Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. 10Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.

Laaste waarskuwing en groet
11Van hier af skryf ek eiehandig aan julle. Kyk net die groot letters!
12Daardie mense wat so daarop aandring dat julle julle ook moet laat besny, wil maar net uiterlik ‘n goeie indruk maak, sodat hulle nie vervolg sou word ter wille van die kruis van Christus nie. 13Al het hulle hulle laat besny, onderhou hulle self nie die wet van Moses nie, maar hulle wil net hê dat julle julle moet laat besny sodat hulle kan roem oor wat met julle liggaam gebeur het. 14Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. 15Of ‘n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ‘n nuwe mens is. 16En almal wat volgens hierdie beginsel leef, die ware Israel – mag God aan hulle vrede gee en barmhartigheid bewys.

Lukas 10:1-11, 16-20

Die sending van die twee en sewentig
(Vgl. Matt. 11:20-24)
1Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. 2Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.
4“Moenie ‘n beurs of ‘n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie. 5As julle in ‘n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’ 6As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom. 7Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon. 8As julle in ‘n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit. 9Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’ 10Maar as julle in ‘n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: 11‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’

16“Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”
Die terugkoms van die twee en sewentig
17Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.”
18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val. 19Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. 20En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.”