Hierdie week se tekste:
- Eksodus 20:1-17
- Psalm 19
- 1 Korintiërs 1:18-25
- Johannes 2:13-22
Eksodus 20:1-17
Die tien gebooie(Vgl. Deut. 5:6-21)
1Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
4“Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.
7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.
8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.
12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”
Psalm 19
Die openbaring van die Here is volmaak
1Vir die koorleier. ‘n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur aan die ander
en die een nag deel die kennis aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ‘n boodskap uit oor die hele wêreld
en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel ‘n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin om sy baan te volg,
is hy soos ‘n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.Die gebod van die Here is helder:dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud,
soeter as heuning, as druppels uit ‘n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.
1 Korintiërs 1:18-25
Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe:
“Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig,en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.”
20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.
Johannes 2:13-22
Die reiniging van die tempel(Matt. 21:12-13; Mark. 11:15-17; Luk. 19:45-46)
13Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15Toe het Hy met toutjies ‘n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ‘n besigheidsplek maak nie.”
17Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”
18Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”
19Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”
20Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”
21Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. 22Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.