Hierdie week se tekste:
- Lukas 17:5-10
- Habakuk 1:1-4, 2:1-4
- Psalm 37:1-9
- 2 Timoteus 1:1-14
Lukas 17:5-10
5Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.”
6Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.
7“Sê nou een van julle het ‘n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? 8Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’ 9’n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? 10So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”
Habakuk 1:1-4, 2:1-4
1’n Uitspraak van die Here wat Hy aan die profeet Habakuk geopenbaar het.
Habakuk se klag: Onreg
2Hoe lank moet ek om hulp roep
voordat U hoor, Here,
moet ek by U bly kla oor geweld
voordat U red?
3Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word,
waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?
Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld,
en word daar getwis en gebaklei.
4Die wet het nie meer krag nie,
en daar geskied nie meer reg nie.
Slegte mense het die oorhand oor die goeies,
en so word die reg verkrag.
2:1Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,
my plek op die vestingmuur gaan inneem,
ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê
en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.
2Die Here het toe vir my gesê:
Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette
sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees.
3Die openbaring geld vir ‘n bepaalde tyd;
dit sal gou kom want dit kom beslis.
Jy moet net geduldig bly wag
as dit nie gou kom nie,
want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie.
4Dit is die boodskap:
Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry,
maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.
Psalm 37:1-9
Laat jou lewe aan die Here oor
1Van Dawid.
Moet jou nie ontstel oor skelms
en jou kwel oor skurke nie,
2want soos gras vergaan hulle gou
en soos groenigheid verdwyn hulle sommer.
3Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is,
woon en werk rustig voort.
4Vind jou vreugde in die Here,
en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.
5Laat jou lewe aan die Here oor
en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
6Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son,
jou reg soos die helder lig van die middag.
7Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou
en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ‘n skelm nie.
8Moenie kwaad word nie, laat staan die woede,
moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.
9Die skelms sal uitgeroei word,
maar dié wat hulle vertroue in die Here stel,
sal in besit bly van die land.
2 Timoteus 1:1-14
1Van Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, gestuur om die belofte te verkondig van die lewe in Christus Jesus.
2Aan Timoteus, my geliefde seun.
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!
Getrouheid aan die evangelie
3Ek dank God, wat ek net soos my voorouers met ‘n skoon gewete dien, wanneer ek onophoudelik dag en nag in my gebede aan jou dink. 4Ek onthou jou afskeidstrane en wil jou baie graag weer sien. Dit sal vir my ‘n groot vreugde wees. 5Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.
6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas. 7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.
8Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil ‘n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. 9Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. 10Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. 11Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar.
12Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.
13Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. 14Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.