Hierdie week se tekste:
- Romeine 6:12-23
- Genesis 22:1-14
- Psalm 89
- Matteus 10:40-42
Romeine 6:12-23
Dood vir die sonde, maar lewend vir God.
12Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. 13Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. 14Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.
In diens van wat God wil
15Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade? Beslis nie. 16Julle weet tog: as julle julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe. 17Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. 18Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen. 19Weens julle beperkte begrip gebruik ek ‘n beeld uit die alledaagse lewe: soos julle elke deel van julle liggame in diens van sedelike onreinheid en wetteloosheid gestel het en losbandig gelewe het, so moet julle nou elke deel van julle liggame in diens van God stel om heilig te lewe. 20Toe julle slawe van die sonde was, was julle nie in diens van God nie. 21Wat was die vrug wat dié dinge waaroor julle nou skaam kry, tóé vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood. 22Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe. 23Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.
Psalm 89:1-4;15-18
Die hemel loof u wondermag
1’n Gedig van Etan die Esragiet.
2Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade,
sy trou verkondig aan komende geslagte.
3Ek sê: “U liefde en u trou wankel nooit,
dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde.”
4U het gesê: “Ek het ‘n verbond gesluit met my uitverkorene,
Ek het ‘n eed gesweer vir my dienaar Dawid.
15U troon is gebou op geregtigheid en reg,
liefde en trou staan in u diens.
16Dit gaan goed met die volk
wat kan jubel tot u eer,
wat in u lig lewe, Here.
17Hulle besing u Naam die hele dag,
hulle prys u reddingsdade;
18U is die krag waarin hulle roem.
Dit is ons sterkte: dat ons u guns geniet.
Matteus 10:40-42
Beloning (Mark. 9:41)
40“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal ‘n profeet se beloning ontvang; en wie ‘n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal ‘n goeie mens se beloning ontvang. 42Wie aan een van hierdie geringstes net ‘n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”
Genesis 22:1-14
Abraham moet vir Isak offer
1’n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Abraham!”Hy het geantwoord: “Hier is ek!”2God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”3Vroeg die volgende môre het Abraham ‘n donkie opgesaal en hout gekap vir die brandoffer. Hy het twee slawe saamgevat en ook sy seun Isak. Toe het hy vertrek na die plek toe wat God vir hom aangewys het. 4Op die derde dag het Abraham die plek uit die verte gesien. 5Toe sê hy vir sy slawe: “Wag hier met die donkie. Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.”6Abraham het die hout vir die brandoffer op sy seun Isak se rug getel en self vuur en ‘n mes saamgevat. Terwyl hulle twee so saamloop, 7sê Isak vir sy pa: “Pa?” en Abraham antwoord: “Ja, my seun?”Toe vra Isak: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”8Abraham het geantwoord: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”Daarna het hulle twee saam verder gestap. 9Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, het Abraham daar ‘n altaar gebou. Hy het die hout reggesit en sy seun Isak vasgebind en op die altaar neergesit, bo-op die hout. 10Net toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, 11roep die Engel van die Here uit die hemel na hom:“Abraham, Abraham!”Hy het geantwoord: “Hier is ek!”12Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”13Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom ‘n skaapram wat aan sy horings in ‘n bos vasgevang is. Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer. 14Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.”15Die Engel van die Here het weer uit die hemel na Abraham geroep 16-17en gesê: “Dit is Ek, die Here, wat praat. Ek lê ‘n eed af by Myself dat Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie. Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel en soos die sand van die see. Jou nageslag sal die stede van sy vyande in besit neem. 18In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”19Daarna is Abraham terug tot by sy slawe, en hulle het almal saam na Berseba toe gegaan. Abraham het daar gewoon.