Leesrooster 02-04-23

  • Psalm 118:1-2, 19-29
  • Matteus 21:1-11

Psalm 118:1-2, 19-29

2Laat Israel sê:
“Vir ewig duur sy troue liefde.”

19Maak vir my die poorte
na geregtigheid oop;
ek wil daardeur ingaan,
ek wil die Here prys.
20“Dit is die poort na die Here –
regverdiges mag daardeur ingaan.”
21Ek wil U prys
omdat U my geantwoord
en my te hulp gekom het.
22Die klip wat die bouers afgekeur het,
het die hoeksteen geword.
23Van die Here het dit gekom;
dit is ‘n wonder in ons oë.
24Dit is die dag wat die Here
gemaak het;
laat ons juig
en ons in Hom verheug.

25Ag, Here, verlos ons tog!
Ag, Here, gee tog voorspoed!

26Geseënd is hy wat kom
in die Naam van die Here.
Ons seën julle uit die huis van die Here.

27Die Here is God
Hy het vir ons lig laat skyn.
Voer met gevlegte takke
die kringdans uit tot by
die horings van die altaar.
28U is my God en ek prys U!
My God, ek wil U verheerlik.
29Prys die Here, want Hy is goed;
ja, vir ewig duur sy troue liefde.

Matteus 21:1-11

1Toe hulle Jerusalem nader en by Betfage teen die Olyfberg kom, stuur Jesus twee dissipels 2met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en julle sal dadelik ‘n vasgemaakte donkie vind met ‘n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord, ‘Die Here het hulle nodig’. Dan sal hy hulle dadelik laat gaan.” 4Dit het gebeur, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is:

5“Sê vir die dogter van Sion:
Kyk, jou Koning kom na jou toe:
Hy is sagmoedig en Hy sit op ‘n donkie,
en op ‘n jong donkie,
die vul van ‘n pakdier.”

6Die dissipels het vertrek en gemaak soos Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en die vul geneem, boklere op hulle neergesit, en Hy het daarop gaan sit. 8Die groot skare het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer het takke van die bome afgekap en op die pad oopgesprei. 9Die skare wat voor Hom uit geloop en dié wat gevolg het, het uitgeroep:
“Hosanna vir die Seun van Dawid!
Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!
Hosanna in die hoogste!”

10Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in rep en roer, en hulle het gevra: “Wie is hierdie man?” 11Die skare het gesê: “Dit is die profeet Jesus, die Een van Nasaret, in Galilea.”