Leesrooster 02-02-25

  • Jeremia 1:4-10
  • Psalm 71:1-6
  • 1 Korintiërs 13:1-13
  • Lukas 4:21-30

Jeremia 1:4-10

Jeremia word tot profeet geroep
4Die woord van die Here het tot my gekom:
5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

6“Ag, Here my God,” het ek geantwoord,“ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.”

7Toe sê die Here vir my:Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur,en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. 8Moenie vir hulle bang wees nie,want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het.

9Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraaken vir my gesê:Ek het nou my woorde in jou mond gelê.10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

Psalm 71:1-6

Nou dat ek oud geword het
1By U, Here, skuil ek,laat my tog nooit
teleurgestel staan nie!
2Red my en bevry my, want U is getrou.
Luister tog na my en help my!
3Wees vir my ‘n rots om na toe te vlug,
waar ek altyd die veiligheid mag vindwat U tot my redding beskik het,
want U is my rots en my vesting.
4My God, bevry my uit die hand van goddeloses,
uit die greep van skurke en verdrukkers,
5want U, Here, U is my hoop,
op U, Here, het ek van jongs af vertrou.
6U is my hulp van my geboorte af,
reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.
U loof ek gedurigdeur.

1 Korintiërs 13:1-13

Die liefde
1Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:
Al praat ek die tale van mense en engele,
maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword.

2Al het ek die gawe van profesie
en ken ek al die geheimenisseen besit ek al die kennis,
en al het ek al die geloof om berge te versit,
maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

3Al deel ek al wat ek het aan ander uit,
en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem,
maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.

4Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. 5Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. 6Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.

7Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verdra alles.

8Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou,en dié van kennis sal uitgedien raak.9Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, 10maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.11Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind.

12Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld,
maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.
Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.
13En nou:
geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.
En die grootste hiervan is die liefde!

Lukas 4:21-30

21Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

22Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?” 23Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou: ‘Geneesheer, genees jouself’ en vir My sê: ‘Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen nou dieselfde dinge ook hier waar jy grootgeword het.’  24Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. 

25Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar ‘n groot hongersnood in die hele land gekom het. 26Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na ‘n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. 27En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.”

28Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. 29Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. 30Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.