Leesrooster 01-12-24 – Advent 1

  • Jeremia 33:14-16
  • Psalm 25:1-10
  • 1 Tessalonisene 3:9-13
  • Lukas 21:25-36

Jeremia 33:14-16

14Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek die goeie belofte sal nakom wat Ek aan Israel en Juda gemaak het. 15In daardie dae, in daardie tyd, sal Ek vir Dawid ‘n wettige afstammeling gebore laat word en hy sal in die land reg laat geskied en reg doen. 16In daardie dae sal Juda gered word en Jerusalem sal onbesorg woon en genoem word: Die Here verskaf reg aan ons.

Psalm 25:1-10

Maak my u weë bekend
1Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar.

1 Tessalonisense 3:9-13

9Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het? 10Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek.11Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! 12En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. 13So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen.

Lukas 21:25-36

Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens
(Matt. 24:29-31; Mark. 13:24-27)
25“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe. 26Die mense sal beswyk van vrees en spanning oor die dinge wat oor die hele wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 27En dan sal hulle die Seun van die mens met groot krag en majesteit op ‘n wolk sien kom. 28As hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig julle kop op, want dan is julle verlossing naby.”

Die profetiese rede: die gelykenis van die vyeboom
(Matt. 24:32-35; Mark. 13:28-31)
29Toe vertel Hy hulle ‘n gelykenis: “Let op die vyeboom en al die ander bome. 30Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is. 31Net so moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die koninkryk van God naby is. 32Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur. 33Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

Die profetiese rede: vermaning tot waaksaamheid
34“Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ‘n vangnet oorval nie. 35Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. 36Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.”