Hierdie week se tekste:
- Eksodus 17:1-7
- Psalm 25:1-9
- Matteus 21:23-32
- Fillipense 2:1-13
Eksodus 17:1-7
Water uit die rots
1Nadat die hele volk Israel uit die Sinwoestyn vertrek het, het hulle op bevel van die Here van plek tot plek gegaan totdat hulle by Refidim kamp opgeslaan het. Maar daar was geen water vir die volk om te drink nie. 2Toe het die volk met Moses rusie gemaak en gesê: “Gee jý vir ons water om te drink!”
En Moses antwoord hulle: “Waarom maak julle rusie met my? Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef?”
3Maar die volk was dors en hulle het vir Moses verwyt: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?”
4Daarna het Moses tot die Here geroep: “Wat moet ek met hierdie volk aanvang? Netnou gooi hulle my met klippe dood.”
5Toe sê die Here vir Moses: “Loop voor die volk verby en neem van die leiers van Israel saam. Vat ook die kierie waarmee jy op die Nyl se water geslaan het, en stap vooruit. 6Ek sal daar reg voor jou op die rots by Horeb staan. Dan moet jy teen die rots slaan, en daar sal water uitloop vir die volk om te drink.”
Moses het dit toe gedoen voor die oë van die leiers van Israel. 7Hy het die plek Massa en Meriba genoem omdat die Israeliete daar met Moses rusie gemaak het en ook omdat hulle die geduld van die Here op die proef gestel het toe hulle gesê het: “Is die Here by ons of nie?”
Psalm 25:1-9
Maak my u weë bekend
1. Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
Matteus 21:23-32
Die vraag oor Jesus se gesag(Mark. 11:27-33; Luk. 20:1-8)
23Jesus het na die tempel toe gegaan, en terwyl Hy besig was om die mense te leer, kom die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk na Hom toe en vra: “Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?”
24Toe antwoord Jesus hulle: “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen. 25Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?”
Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy vir ons sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 26Maar as ons sê: ‘Van mense af,’ kom ons by die mense in die moeilikheid, want almal beskou Johannes as ‘n profeet.”
27Toe antwoord hulle vir Jesus: “Ons weet nie.”
En Hy sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”
Die gelykenis van die twee seuns
28“Wat sê julle hiervan? Daar was ‘n man met twee seuns. Hy het vir die een gaan sê: ‘Seun, gaan werk vandag in die wingerd.’ 29‘Ek wil nie!’ antwoord hy, maar later het hy spyt gekry en tog gegaan. 30Die man het toe na die ander seun toe gegaan en vir hom dieselfde gesê. Hy het geantwoord: ‘Goed, Pa,’ maar hy het nie gegaan nie. 31Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?”
Hulle sê: “Die eerste.”Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. 32Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie.”
Fillipense 2:1-13
1Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – 2maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.
Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.
Ligdraers in die wêreld
12My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, 13want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.