Leesrooster 01-09-24

Hierdie week se tekste:

  • Deuteronomium 4:1-2; 6-9
  • Psalm 15
  • Jakobus 1:17-27
  • Markus 7:1-23

Deuteronomium 4:1-2; 6-9

Gehoorsaam die Here!
1“Israeliete, julle moet luister na die voorskrifte en die bepalings waarin ek julle onderrig. Julle moet daarvolgens lewe, dan sal julle bly lewe en die land aan en in besit neem wat die Here die God van julle voorvaders vir julle sal gee. 2Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.

6Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het. Hulle sal van al hierdie voorskrifte hoor en sê: ‘Net hierdie groot nasie het wysheid en insig.’ 7Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid? 8Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?9“Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp.

Psalm 15

Wie het die reg om in die tempel te kom?
1’n Psalm van Dawid.
Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here?
Wie mag op u heilige berg vertoef?
2Hy wat onberispelik wandel
en doen wat reg is,
wat met sy hele hart die waarheid praat,
3nie kwaadpraat nie,
sy medemens nie kwaad aandoen nie
en niemand beledig nie;
4hy wat dié verag wat deur God verwerp is,
maar almal eer wat die Here dien;
wat sy woord hou, selfs tot sy eie skade,
5sy geld nie op rente uitleen nie
en hom nie laat omkoop om die onskuldige te kort te doen nie.
Wie hom hieraan hou,
sal nooit wankel nie.

Jakobus 1:17-27

17Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. 18Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.

Hoor en doen
19My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 20’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. 21Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.
22Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. 23Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: 24hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vrymaak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.
26As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. 27Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.

Markus 7:1-23

Die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte(Matt. 15:1-9)
1Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, kom toe by Jesus. 2Hulle het gesien party van sy dissipels eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is nie.
3Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte. 4En wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was.
5Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?”
6Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan:“Hierdie volk eer My met hulle mond,maar hulle hart is ver van My af.7Dit help niks dat hulle My probeer diendeur leerstellings van menseas gebooie van God voor te hou nie.
8“Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”
9Hy het verder vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle oorgelewerde gebruike in stand te hou. 10Moses het gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ 11Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: ‘n offergawe vir God. 12En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie. 13So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge wat julle doen.”

Wat ‘n mens onrein maak(Matt. 15:10-20)
14Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: 15Niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ‘n mens uitkom, dít maak hom onrein.”17Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra. 18Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, 19omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?”
Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.
20“Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit ‘n mens kom, dít maak ‘n mens onrein. 21Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ‘n mens onrein.”