- Handelinge 9:1-20
- Psalm 30
- Openbaring 5:11-14
- Johannes 21:1-19
Handelinge 9:1-20
Saulus se bekering
(Vgl. Hand. 22:6-16; 26:12-18)
1Intussen het Saulus soos ‘n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan 2en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring.3Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ‘n lig uit die hemel op hom gestraal. 4Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”
5“Wie is U, Here?” vra hy toe.
“Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg.
6Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”7Die mense wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan. Hulle het die stem gehoor maar niemand gesien nie. 8Toe Saulus van die grond af opstaan en sy oë oopmaak, kon hy nie sien nie. Hulle het sy hand gevat en hom na Damaskus toe gelei. 9Drie dae lank kon hy nie sien nie en het hy niks geëet of gedrink nie.
10In Damaskus was daar ‘n sekere volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het hom in ‘n gesig geroep: “Ananias!”
“Hier is ek, Here,” het hy geantwoord.
11En die Here sê vir hom: “Gaan dadelik na Reguitstraat toe en vra by Judas se huis na ‘n man van Tarsus met die naam Saulus. Hy is besig om te bid 12en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam Ananias sien inkom wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.”
13Maar Ananias sê: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo, in Jerusalem aangedoen het. 14En nou is hy hier met volmag van die priesterhoofde om almal gevange te neem wat u Naam aanroep.”
15Toe sê die Here vir hom: “Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel. 16Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.”
17Ananias het toe gegaan en in daardie huis gekom. Hy het Saulus die hande opgelê en gesê: “Saul, broer, die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.”18Onmiddellik het daar iets soos skille van Saulus se oë afgeval en kon hy weer sien. Toe het hy opgestaan en hy is gedoop; 19en hy het geëet en sy kragte herwin.
Saulus preek in Damaskus
Saulus het ‘n paar dae daar by die gelowiges in Damaskus gebly 20en dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Jesus die Seun van God is.
Psalm 30
Vir altyd sal ek U loof
1’n Psalm. ‘n Lied vir die inwyding van die tempel.
Van Dawid.
2Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered
en my vyande nie laat bly wees oor my nie.
3Here my God, ek het na U geroep om hulp
en U het my gesond gemaak.
4Here, U het my gered van die doderyk,
my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe.
5Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien,
loof sy heilige Naam!
6Waarlik, sy toorn duur net ‘n oomblik,
maar sy goedheid lewenslank.
Gisteraand was daar nog trane
en vanmôre lag ek al weer.
7Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê:
“Niks sal my ooit laat wankel nie.”
8Deur u goedheid het U my op ‘n veilige berg laat staan, Here.
Maar toe U U aan my onttrek het,
het ek baie bang geword.
9Ek het na U geroep, Here.
Ek het U om genade gesmeek:
10“Watter voordeel is daar in my ondergang
as ek die graf moet ingaan?
Kan stof U loof?
Kan dit u trou verkondig?
11Luister, Here, en wees my genadig!
Help my, Here!”
12Ek was in die rou,
maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek
en vir my feesklere aangetrek.
13Daarom sal ek sing tot u eer;
ek sal nie stilbly nie.
Here my God, vir altyd sal ek U loof!
Openbaring 5:11-14
11Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ‘n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor 12uitroep:
“Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.”
13Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê:
“Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”
14Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en God aanbid.
Johannes 21:1-19
Jesus verskyn nog ‘n keer aan sy dissipels
1Daarna het Jesus weer aan sy dissipels verskyn, by die See van Tiberias. Dit het só gebeur:
2Simon Petrus en Tomas, wat ook Didimus genoem is, Natanael van Kana in Galilea, die seuns van Sebedeus en nog twee ander dissipels was daar saam. 3Simon Petrus sê toe vir hulle: “Ek gaan visvang.”“Ons gaan ook saam met jou,” sê hulle vir hom.Hulle het gegaan en in die skuit geklim, maar daardie nag het hulle niks gevang nie.
4Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie. 5Jesus vra toe vir hulle: “Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?”
“Nee,” antwoord hulle Hom.
6Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.”
Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie.
7Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!”
Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek – want sy bolyf was kaal – en in die water gespring. 8Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep. 9Toe hulle aan land kom, sien hulle ‘n vuur brand en ‘n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. 10Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.”
11Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.12Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.”
Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is. 13Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis.14Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.
Petrus kry opnuut sy opdrag
15Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?”
“Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”
Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.”
16Jesus vra hom weer ‘n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?”
“Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.”
Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.”
17Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?”
Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.”
Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei. 18Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.”
19Dit het Jesus gesê en daarmee aangedui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik.Daarna sê Hy vir hom: “Volg My!”