Kerkjaar en Leesrooster

In Strand-Noord volg ons graag die Kerkjaar en Leesrooster in ons prediking en erediens-inkleding (kanselklede; versierings en liedere). Ons doen dit vir ‘n hele paar redes wat ons hieronder sal noem, maar wat is dit?

Die Kerkjaar:

https://dinkjeug.co.za/kerkjaar-kalender/

Soos duidelik gesien kan word uit die diagram hierbo volg die Kerkjaar die verhaal van Jesus se lewe – sy koms, bediening, dood, opstanding en hemelvaart. Hy is immers die middelpunt van alles wat ons glo en daarom maak dit sin dat die groot gebeurtenisse rondom Hom so ‘n sentrale rol speel. Dit gee vir ons die agtergrond waarteen ons eie lewens as sy volgelinge afspeel.

Die kerkjaar word ingedeel in blokke waarin ons stilstaan by bepaalde aspekte en gebeure van Jesus se lewe. Dit skep die geleentheid om lekker diep in te grawe in wat dit vir ons beteken. Dit is ‘n handige struktuur om op ‘n deeglike en sistematiese manier in ons kennis en geloof te groei.

Ons ook dat Jesus die sentrale posisie in ons Bybel inneem en dat die Bybel eers regtig sin maak as jy dit lees rondom die Jesus-gebeure. Daarom help dit ons as ons in ons lees van die Bybel ook aansluit by hierdie struktuur van Jesus se lewe en bediening.

Die Bybel is natuurlik baie meer as net die verhale van Jesus se lewe.
Die Ou Testamentiese verhaal van God se betrokkenheid in ons wêreld deur die nageslag van Abraham word die baie belangrike agtergrond van Jesus se lewe en bediening en wat Hy doen maak baie meer sin wanneer jy dit teen hierdie breë agtergrond sien.

Daarmee saam is die Nuwe Testament natuurlik ook baie meer as nét die verhaal van Jesus se lewe – dit vertel ons ook van die eerste gemeentes en hulle ontdekkings van wat dit beteken om as dissipels van Jesus te leef – net so ‘n belangrike bron vir ons eie dissipelskap-groei. Dit alles saam vorm vir ons die Woord – die instrument wat die Gees gebruik om ons lewens te vorm as volgelinge van Jesus.

Kortom: Ons Bybel het baie verskillende boeke, uit baie verskillende tye, wat alles deel vorm van die Goeie Nuus van Jesus. Maar om dit alles lekker bymekaar te hou kan ‘n uitdaging wees – en dit is hier waar die Leesrooster in die prentjie kom.

So wat is die Leesrooster?

Die Leesrooster wat ons volg (algemeen bekend as die Revised Common Lectionary – RCL) is ‘n weeklikse program van 4 tekste uit die Ou – en Nuwe Testament in ‘n driejaar siklus (Jaar A, B, en C). Uit die Nuwe Testament word daar vir die hele jaar gekonsentreer op een van die Sinoptiese Evangelies (Matteus, Markus en Lukas). Die Evangelie van Johannes word tussen-in hanteer. Hierdie indeling van tekste sluit ten nouste aan by die Kerkjaar hierbo. Die tweede lesing kom gewoonlik uit Handelinge of een van die ander boeke van die NT.
Die Ou Testamentiese lesings is meestal ‘n Psalm gekombineer met ‘n teks uit een van die ander boeke.
Die voorgestelde skrifgedeeltes is gewoonlik korter gedeeltes uit die boeke en kan goedskiks alleen gelees word maar dit nooi ons eintlik uit om die teksgedeeltes voor en na dit ook te lees. Op hierdie manier kan groot dele van die Bybel in elke 3 jaar deurgewerk word.

So hoe kan die Leesrooster en Kerkjaar vir jou van nut wees?

  • In die eerste plek bied dit aan jou ‘n lekker struktuur: Die Bybel is ‘n baie dik, en soms ingewikkelde boek! ‘n Mens kan maklik ervaar dat jy by sommige dele nie regtig die kloutjie by die oor kry nie. Die Leesrooster help jou om ‘n duideliker geheel-prentjie te kry van hoe die onderskeie dele by mekaar pas.
  • Dit help jou om méér van die Bybel méér te lees: Ons almal het maar ons gunsteling boeke en teksgedeeltes in die Bybel en as ons nie versigtig is nie raak dit eintlik al wat ons van die Bybel weet. Die Leesrooster help ons om meer omvattend ons Bybel te hanteer. Soms is daar tekste wat jou sommer lekker laat kopkrap – en dit is goed! Die HELE Bybel is immers God se Woord en hoe meer ons alles daarin lees, hoe beter sal ons greep op God se boodskap vir ons wees.
  • Dit help ons onthou dat ons nie alleen is nie: Die RCL verbind ons aan Protestantse kerke regoor die wêreld en daar is iets besonders in die idee dat gelowiges van oraloor saam lees en bid. Maar dit is nie net in die groot kerk wat ons hierdie verbintenis beleef nie – ook in ons gemeente lees ons saam aan hierdie tekste met die oog op die komende Sondag, net nog ‘n band wat Strandnoorders aan mekaar verbind.
  • Dit gee jou toegang tot interessante ander insigte: Omdat die Leesrooster wêreldwyd gelees en bepeins word is daar baie artikels, ontledings en boodskappe aanlyn beskikbaar. ‘n Eenvoudige soektog oor die teks van die week sal jou bekendstel aan hierdie ander bronne en kan baie vrug afwerp vir ‘n meer volronde verstaan van die Bybel.

Hoe kan ek/ons die Leesrooster gebruik?

Die maklikste manier om in die ritme van die Leesrooster te kom is om elke dag een van die tekste in jou stiltetyd te gebruik. Dit is ook goed om die tekste rondom die bepaalde teks te lees, dit lei baie maal tot nuwe ontdekkings in jou verstaan van die groter boodskap. Omdat ons prediking meestal uit minstens een van die Leesroostertekste kom, kan jou voor-af lees jou al bietjie inlei en laat dink oor die betekenis van ‘n bepaalde gedeelte in die teks. (Die hoofteks vir ‘n Sondag word met ‘n kleurmerker op die Tuisblad onder “Leesrooster” aangetoon.)

Soos bo genoem, kan die Leesrooster jou help met ‘n wyer en meer gefokusde lees van die Bybel. Omdat daar vir langer tye by die onderskeie boeke stilgestaan word, is dit ‘n goeie geleentheid om sommer die hele boek deur te werk, pleks van net die aanbevole teksegedeeltes te lees. In samehang met instrumente soos kommentare, bybelstudieboeke, “Bible Project”-insetsels, ens. kan dit jou baie vinnig ‘n lekker handvatsel gee om jou Bybel beter te leer ken. Dit is natuurlik ook ‘n lekker manier om in ‘n Sirkel vars en interessante gespreks-onderwerpe te kan kry.

Maar maak nie saak watter tegniek/metode jy ookal op besluit nie – die belangrikste is dat jy LEES! Dit is werklik ons oortuiging dat ‘n gereelde en aandagtige gebruik van die Leesrooster vir jou ontsettend baie gaan help in jou geestelike pad saam met die Here, en ons gemeente.

“Tolle lege” is die woorde wat die ou Kerkvader Augustinus gehoor het met sy bekering duisende jare geleede – “Vat en lees”. Dit was die eerste stap in sy merkwaardige lewe as dissipel van Jesus. Die Leesrooster nooi ons vir dieselfde uit!

(Aaron Burden: Unsplash)