Goeie Vrydag

  • Jesaja 52:13-53:12
  • Psalm 22
  • Hebreërs 10:16-25
  • Johannes 18:1-19:42

Jesaja 52:13-53:12

13“Kyk, my dienskneg
sal suksesvol wees,
hy sal uitstyg, uittroon,
en baie verhewe wees.
14Soos baie ontsteld was oor hom
– so onmenslik misvormd
was sy voorkoms,
sy gestalte nie meer
dié van ‘n mens nie –
15net so sal hy baie nasies verbyster;
konings sal oor hom swyg.
Ja, hulle aan wie niks vertel is nie, sien;
en wie nie gehoor het nie, begryp.”

53 1Wie het geglo wat ons gehoor het?
En die arm van die Here,
aan wie is dit geopenbaar?
2Hy het soos ‘n jong loot
voor Hom opgegroei,
soos ‘n wortelstok uit droë grond.
Hy het nie ‘n gestalte gehad,
geen glans,
dat ons na hom sou kyk nie,
nie ‘n goeie voorkoms,
dat ons hom sou begeer nie.

3Hy is verag, deur mense verlaat,
‘n mens van smarte,
bekend met siekte,
soos iemand vir wie ‘n mens
jou gesig verberg.
Hy is verag,
en ons het hom nie geag nie.

4Nogtans, ons siektes,
hy het dit gedra,
en ons smarte,
hy het dit op hom gelaai.

Maar ons het hom beskou
as iemand wat gekasty word,
geslaan deur God, en verneder.
5Hy is egter deurboor
oor ons oortredings,
verbrysel oor ons sondeskuld.
Die straf wat ons vrede bewerk,
was op hom,
en deur sy wonde is daar
vir ons genesing.

6Ons almal het soos kleinvee gedwaal,
elkeen van ons het sy eie koers ingeslaan;
maar die Here het ons almal
se sondeskuld op hom laat neerkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het hom daaraan onderwerp
en nie sy mond oopgemaak nie –
soos ‘n skaap wat ter slagting gebring word,
soos ‘n ooi wat voor haar skeerders stom is.
Hy het sy mond nie oopgemaak nie.

8Ná onderdrukking en ‘n vonnis
is hy weggeneem;
en sy lot, wie dink daaroor na?
Ja, hy is afgesny van die land van die lewendes;
vanweë die oortreding van sy volk
het die slae hom getref.
9Hulle het vir hom sy graf
by goddeloses gegee,
en by ‘n ryke was hy in sy dood,
alhoewel hy nie geweld gepleeg het,
en bedrog nie in sy mond was nie.
10Maar die Here het verkies
om hom te verbrysel;
Hy het hom siek gemaak.
As sy lewe dien as ‘n skuldoffer,
sal hy ‘n nageslag sien en lank leef.
Wat die Here wil hê,
sal deur sy hand suksesvol wees.

11Ná die swaarkry wat hy beleef het,
sal hy sien;
hy sal versadig wees aan sy kennis.
“My dienskneg sal hom
as ‘n regverdige betoon aan baie,
en hulle sondeskuld –
hy sal dit op hom laai.

12Daarom sal Ek aan hom
‘n deel gee onder baie;
en met magtiges sal hy buit verdeel,
omdat hy sy lewe
blootgestel het aan die dood,
en by oortreders gereken is.
Hy het egter die sonde
van baie gedra;
vir oortreders het hy ingetree.

Psalm 22

1Vir die musiekleier. Op “Die rooi takbok van die dagbreek”. ‘n Psalm. Van Dawid.

2My God, my God,
waarom het U my verlaat?
Waarom is U ver daarvan
om my te verlos,
ver van die woorde
wat ek uitskreeu?
3My God, ek roep bedags,
maar U antwoord nie,
ook snags,
maar daar is geen rus vir my nie.

4U is tog die Heilige,
U heers waar die lofliedere
van Israel opklink.
5Op U het ons voorouers vertrou,
hulle het vertrou
en U het hulle bevry.
6Tot U het hulle om hulp geroep
en hulle het ontvlug;
op U het hulle vertrou
en hulle het nie beskaamd gestaan nie.

7Maar ek is ‘n wurm en nie ‘n mens nie,
bespot deur die mense,
verag deur die volk.
8Almal wat my sien,
dryf met my die spot;
hulle gryns en skud die kop:
9“Wend jou tot die Here!” en
“Laat Hy hom bevry,
laat Hy hom red
as Hy hom goedgesind is!”
10U is immers die Een wat my
uit die baarmoeder gehaal het,
my op die borste
van my moeder laat vertrou het.
11Op U is ek aangewese
van die moederskoot af;
van my geboorte af is U my God.
12Moenie ver van my bly nie,
want die nood is naby;
daar is immers niemand wat help nie!

13Baie bulle het my omsingel;
die sterkes van Basan het my vasgekeer.
14Hulle het hulle monde
teen my oopgesper
soos ‘n leeu wat verskeur en brul.
15Soos water is ek uitgestort,
my hele gebeente val uitmekaar;
my hart het geword soos was,
dit het in my liggaam gesmelt.
16My krag het uitgedroog
soos ‘n potskerf,
en my tong kleef
aan my verhemelte;
in die stof van die dood laat U my lê.
17Inderdaad, honde het my omsingel.
‘n Bende kwaaddoeners het my omring;
hulle het my hande en my voete deurboor.
18Ek kan al my bene tel.
Hulle staar my aan met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar,
en hulle loot oor my boklere.

20U, Here, moet tog nie
ver van my bly nie;
my bron van krag,
kom my gou te hulp.
21Red tog my lewe van die swaard,
my enigste lewe uit die mag
van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu,
en van die horings van buffels.


U het my geantwoord.
23Ek wil u Naam verkondig
aan my broers;
in die byeenkoms wil ek U loof:

24“Julle wat vir die Here
ontsag het, loof Hom!
Julle, die ganse nageslag
van Jakob, vereer Hom!
Vrees Hom, ganse nageslag van Israel!

25Want Hy het die lyding
van die magtelose
nie geminag of misken nie;
Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie;
maar toe hy Hom om hulp gesmeek het,
het Hy gehoor.”

26U is die rede vir my lofprysing
in ‘n groot byeenkoms;
my geloftes sal ek nakom
in die teenwoordigheid
van dié wat vir Hom ontsag het.
27Die verdruktes kan dan eet
en versadig word;
wie Hom raadpleeg,
kan die Here loof.
Mag julle harte vir altyd leef!

28Almal tot aan die uithoeke
van die aarde
moet daaraan dink
en hulle tot die Here bekeer.
Al die familiegroepe van die nasies
moet voor U in aanbidding buig;
29want aan die Here
behoort die koningskap,
en Hy heers oor die nasies.
30Ja, voor Hom sal almal
wat oordadig leef,
in aanbidding neerbuig;
voor Hom sal alle sterflinge kniel,
elkeen wat nie die lewe kan behou nie.
31‘n Nageslag sal Hom dien;
hulle sal van my Heer vertel
aan die volgende geslag.
32Hulle sal kom en sy geregtigheid
bekend maak aan mense
wat nog gebore moet word:
Hy het dit gedoen.

Hebreërs 10:16-25

16“Dit is dan die verbond
wat Ek ná daardie dae
met hulle sal sluit, sê die Here:
Ek sal my wette in hulle harte gee,
en dit op hulle verstand neerskryf,”sê Hy ook:
17“Aan hulle sondes
en aan hulle wettelose dade
sal Ek glad nie meer dink nie.”
18Waar daar vergifnis hiervoor is, word ‘n offer vir sondes nie meer gebring nie.

OPROEP EN WAARSKUWING
19Broers, ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom,20langs ‘n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam, 21en ons het ‘n groot Priester oor die huis van God. 22Laat ons daarom ingaan met ‘n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ‘n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.

23Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk,
 want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou. 24Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade, 25sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom!

Johannes 18:1-19:42

1Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy saam met sy dissipels na die oorkant van die Kidrondal vertrek waar daar ‘n tuin was. Hy en sy dissipels het toe daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het.
3Judas het toe daar aangekom met die kohort soldate, en die tempelwagte van die leierpriesters en die Fariseërs, met fakkels en lampe en wapens. 4Jesus het geweet van al die dinge wat met Hom sou gebeur, en het uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” 5Hulle antwoord Hom: “Jesus, die Nasarener.” Hy sê toe vir hulle: “Ek Is Hy.” Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Hy vir hulle sê, “Ek Is Hy,” het die soldate teruggedeins en op die grond neergeval. 7Hy het weer vir hulle gevra: “Wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus, die Nasarener.” 8Jesus het geantwoord: “Ek het vir julle gesê, Ek Is Hy. As julle dan na My soek, laat hierdie mense gaan.” 9Sodoende sou die woorde wat Hy gesê het, vervul word: “Hulle wat U aan My gegee het, van hulle het Ek nie een verlore laat gaan nie.” 
10Simon Petrus het toe ‘n swaard wat hy gedra het, getrek en na die hoëpriester se slaaf geslaan en sy regteroor afgekap. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Steek die swaard terug in sy skede. Die beker wat die Vader My gegee het – sal Ek dit dan nie drink nie?”

JESUS VOOR ANNAS(Matt 26:57-58; Mark 14:53-54; Luk 22:54)
12Toe het die kohort soldate en die chiliarg en die tempelwagte van die Jode Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13En hulle het Hom eerste na Annas geneem. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar die hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat die raad aan die Jode gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf.

EERSTE VERLOËNING DEUR PETRUS(Matt 26:69-70; Mark 14:66-68; Luk 22:55-57)
15Simon Petrus en ‘n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie dissipel was aan die hoëpriester bekend, en hy het saam met Jesus by die hoëpriester se voorhof ingegaan. 16Petrus het egter buite by die deur bly staan. Toe het die ander dissipel, die een wat aan die hoëpriester bekend was, uitgestap en met die deurwag gaan praat, en Petrus na binne gebring.
17Die diensmeisie wat die deurwag was, sê toe vir Petrus: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” Hy antwoord: “Ek is nie!”
18Die slawe en die tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by ‘n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. Ook Petrus het hom daar by hulle gestaan en warm maak.

JESUS VOOR DIE SANHEDRIN(Matt 26:59-66; Mark 14:55-64; Luk 22:66-71)
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en sy lering. 20Jesus antwoord hom toe: “Ek het openlik met die wêreld gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en op die tempelterrein, waar al die Jode saamkom, onderrig gegee, en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” 
22Toe Jesus dit sê, het een van die tempelwagte wat daar naby gestaan het, Hom ‘n klap gegee en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” 23Jesus het hom geantwoord: “As Ek iets verkeerds gesê het, bring dan getuienis dat dit verkeerd is; maar as Ek reg is, waarom slaan jy My?” 24Annas het Hom toe geboeid na die hoëpriester Kajafas weggestuur.

TWEEDE VERLOËNING DEUR PETRUS(Matt 26:71-75; Mark 14:69-72; Luk 22:58-62)
25Simon Petrus het hom nog daar staan en warm maak. Hulle sê toe vir hom: “Is jy nie ook een van sy dissipels nie?” Petrus het dit ontken en gesê: “Ek is nie!” 26Een van die hoëpriester se slawe, ‘n familielid van die een wie se oor Petrus afgekap het, het gesê: “Ek het jou mos in die tuin by hom gesien, dan nie?”
27Petrus het dit weer ontken. En onmiddellik het ‘n haan gekraai.

JESUS VOOR PILATUS(Matt 27:1-2,11-14; Mark 15:1-5; Luk 23:1-5)
28Van Kajafas af het hulle Jesus na die pretorium geneem. Dit was vroegoggend. Hulle het nie self die pretorium binnegegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie, maar die Pasga sou kon eet. 29Pilatus het uitgegaan na hulle toe en gevra: “Watter aanklag lê julle teen hierdie man?” 30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ‘n kwaaddoener was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.” 31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom
 en oordeel hom volgens julle wet.” Die Jode sê vir hom, “Ons word nie toegelaat om iemand om die lewe te bring nie” – 32sodat die woorde wat Jesus gesê het om aan te toon watter dood Hy sou sterf, vervul sou word. 
33Pilatus het toe weer ‘n keer die pretorium binnegegaan en Jesus geroep en Hom gevra: “Is u die koning van die Jode?” 34Jesus antwoord: “Sê u dit uit u eie, of het ander mense dit oor My aan u vertel?” 35Pilatus antwoord toe: “Is ek miskien ‘n Jood? Dit is ú volk en leierpriesters wat u aan my uitgelewer het. Wat het u gedoen?” 
36Jesus het geantwoord: “My koningskap is nie van hierdie wêreld nie. As my koningskap van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer word nie. Maar nou is my koningskap nie van hierdie wêreld nie.” 37“Is u dan tog ‘n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.
” 38Pilatus sê toe vir Hom: “Wat is waarheid?” Nadat hy dit gesê het, het hy weer na die Jode uitgegaan en vir hulle gesê: “Ek vind geen skuld in hom nie.”

JESUS TER DOOD VEROORDEEL(Matt 27:15-31; Mark 15:6-20; Luk 23:13-25)
39“Maar daar is ‘n gebruik vir julle dat ek vir julle een persoon vrylaat gedurende die Pasga. Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” 40Hulle het toe weer geskreeu: “Beslis nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” Barabbas was ‘n misdadiger.

191Toe het Pilatus Jesus geneem en Hom laat gesel. 2Die soldate het ‘n kroon van doringtakkies gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het ook ‘n purperrooi mantel vir Hom omgehang en 3na Hom gegaan en aangehou sê: “Gegroet, koning van die Jode!” En hulle het Hom herhaaldelik geklap.
4Pilatus het weer uitgekom na buite en vir hulle gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle na buite, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.” 5Jesus het uitgekom na buite, met die doringkroon op sy kop en met die purperrooi mantel om. Pilatus sê toe vir hulle: “Kyk, die mens!” 
6Toe die leierpriesters en die tempelwagte Hom sien, het hulle geskreeu: “Kruisig, kruisig!” Pilatus het vir hulle gesê: “Vat julle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie.” 7Die Jode antwoord hom toe: “Ons het ‘n wet, en volgens dié wet moet hy sterf, omdat hy homself Seun van God gemaak het.”
8Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy nog meer beangs geword. 9Hy het die pretorium weer binnegegaan en vir Jesus gesê: “Van waar is u?” Jesus het hom egter nie ‘n antwoord gegee nie.10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat u nie met my nie? Weet u nie dat ek volmag het om u vry te laat, maar ook volmag om u te laat kruisig nie?” 11Jesus het hom geantwoord: “U sou geen volmag oor My gehad het as dit nie van bo aan u gegee is nie. Daarom is hy wat My aan u oorgelewer het, aan ‘n groter sonde skuldig.” 
12Van dié oomblik af het Pilatus aanhoudend probeer om Hom vry te laat, maar die Jode het geskreeu: “As u hierdie man vrylaat, is u nie ‘n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself koning maak, verset hom teen die keiser.”13Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus na buite gebring, en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipplaveisel genoem word – in Hebreeus Gabbata14Dit was die Voorbereidingsdag vir die Pasga, ongeveer die sesde uur. Toe sê Pilatus vir die Jode: “Kyk, daar is julle koning!” 15Hulle het egter geskreeu: “Weg, weg met hom! Kruisig hom!” Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?” Die leierpriesters het geantwoord: “Ons het nie ‘n koning nie, slegs die keiser.” 16Toe lewer hy Hom aan hulle uit om gekruisig te word. En hulle het Jesus weggelei.

KRUISIGING VAN JESUS(Matt 27:32-44; Mark 15:21-32; Luk 23:26-43)
17Jesus het self die kruis gedra, en het uitgegaan na die sogenaamde ‘Kopbeenplek’, in Hebreeus Golgota genoem. 18Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. 19Pilatus het ook ‘n kennisgewing laat skryf en dit aan die kruis vasgeheg. Daarop het geskryf gestaan:
“Jesus, die Nasarener,
die koning van die Jode.”

20Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Dit was geskryf in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die leierpriesters van die Jode sê toe vir Pilatus: “Moenie skryf, ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat daardie man gesê het, ‘Ek is koning van die Jode.’ ” 22Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”

23Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy bokleed geneem en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel, en so ook sy onderkleed. Maar die onderkleed was naatloos, van bo tot onder aaneen geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar, “Laat ons dit nie skeur nie, maar loot wie dit moet kry,” sodat die Skrif vervul sou word wat sê:
“Hulle het my boklere
onder mekaar gedeel
en oor my klere
het hulle die lot gewerp.”
Dit is wat die soldate toe gedoen het. 

25By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” 27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

JESUS STERF(Matt 27:45-56; Mark 15:33-41; Luk 23:44-49)
28Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” 29Daar het ‘n kruik vol suur wyn gestaan. Hulle sit toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n marjoleintak en bring dit na sy mond. 30Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee.

BEVESTIGING VAN JESUS SE DOOD
31Aangesien dit die Voorbereidingsdag was, en sodat die liggame nie aan die kruis sou bly op die Sabbat nie – want daardie Sabbat was ‘n belangrike dag – het die Jode vir Pilatus gevra dat die bene gebreek en die liggame verwyder moet word. 32Die soldate het toe gekom en die eerste een se bene gebreek, en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Een van die soldate het egter met ‘n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom. 
35Hy wat dit gesien het, het daarvan getuig, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat ook julle tot geloof kan kom. 36Want hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37En ‘n ander Skrifdeel sê weer: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”

JESUS IN DIE GRAF(Matt 27:57-61; Mark 15:42-47; Luk 23:50-56)

38Hierna het Josef van Arimatea, wat uit vrees vir die Jode in die geheim ‘n dissipel van Jesus was, Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat voorheen gedurende die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom en ‘n mengsel van ongeveer ‘n honderd litra mirre en adelhout gebring. 40Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit saam met geurige speserye in linnedoeke toegedraai, soos dit die Jode se gebruik is by ‘n begrafnis. 41By die plek waar Hy gekruisig is, was daar ‘n tuin, en in die tuin ‘n nuwe graf waarin niemand nog ooit neergelê is nie. 42Daar het hulle Jesus toe neergelê, omdat dit die Voorbereidingsdag van die Jode was, en aangesien die graf daar naby was.