COVID-19: Slegte, Goeie Nuus

COVID-19: Slegte, Goeie Nuus

Isolasietydperk verleng met twee weke

President Ramaphosa het sopas die slegte nuus gegee: Die isolasie-tydperk is verleng met twee weke. Slegte nuus op soveel vlakke, maar vanuit ‘n ander hoek is dit ook goeie nuus.

Die goeie nuus

Die goeie nuus van ‘n regering wat die erns van hierdie krisis se impak op alle Suid-Afrikaners insien en met moed aanpak. Dit het my laat dink aan die (somtyds omstrede!) woorde van Paulus in Romeine 13:

1Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. 2Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry. 3’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, 4want die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil.

Vanaand was my belewenis dat ons die Here kan dankbaar wees vir ons owerheid en hulle hantering van hierdie buitengewone omstandighede. Maar ook dat dit, in die lig van Paulus se woorde hierbo, ons plig is om as Suid-Afrikaanse gelowiges ons uiterste bes te doen om saam met ons regering hierdie pandemie ‘n nekslag toe te dien. Of dit nou is deur ons gehoorsaamheid aan die moeilike reëls en regulasies, ons persoonlike en gemeenskaplike ondersteuning aan weerloses, of ons finansiële bydraes tot iets soos byvoorbeeld die Solidariteitsfonds, – ons is nou geroep om ‘n verskil te maak; om Christus te bring soos dit nog nooit van ons gevra is nie.

Dit is ook nou die tyd om ons plaaslike gemeenskap te versterk en te ondersteun. Hoor bietjie hoe gaan dit met jou bure en help waar jy kan – kyk veral mooi na die bejaardes en eensames. Wees ‘n stukkie van die Goeie Nuus in jou omgewing.

Leon Marais

Dit is paasfees, en president Ramaphosa het tereg genoem dat hierdie ‘n tyd is waar miljoene Christene die wonder van God se nuwe lewe in ons wêreld vier en nou het ons, soos nog min generasies voor ons, die geleentheid om hierdie waarheid uit te leef.

Veilig Wees!

Saam Bring Ons Christus Aan Almal!

Leon

“The message of Easter is one that we carry in our hearts tonight, a message of hope; recovery and rebirth.”

– President Cyril Ramaphosa –