• Eerbied_k
  • Omgee_k
  • Samehorigheid_k
  • Standvastigheid_k
  • Verdraagsaamheid_k

Ons storie

Print Friendly, PDF & Email

Die simboliek van ons kerkgebou

 7Moses het ‘n tent gevat en dit ver buite die kamp gaan opslaan. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na die tent van ontmoeting buite die kamp gegaan. 8Elke keer wanneer Moses na die tent gegaan het, het die hele volk opgestaan. Elkeen het by die ingang van sy tent bly staan en Moses agterna gekyk tot hy in die tent ingaan. 9 Sodra hy ingaan, het die wolkkolom afgekom en by die ingang van die tent van ontmoeting gaan staan, en dan het die Here met Moses gepraat.

10Wanneer die hele volk die wolkkolom by die ingang van die tent van ontmoeting sien staan, het elkeen by die ingang van sy tent gebuig in aanbidding. 11Die Here het direk met Moses gepraat soos ‘n man met sy vriend.

                                                                                                                                                                                                                                                                     Eksodus 33:7-11

Daar is al by verskeie geleenthede gevra waarom ons kerk se vorm en argitektuur dan is soos dit is. Onthou ook dat die kerk in 1962 gebou is, en in daardie tyd kerke volgens ‘n bekende en konserwatiewe boustyl gebou is. Ons kerk was dus nie net ‘n uitsondering nie, maar ook iets wat deur sommige mense as vreemd en selfs aanstootlik beskryf is. Hierdie oogpunt van sommige was egter grootliks as gevolg van onkunde rakende die basis wat as uitgangspunt vir die ontwerp gedien het.

Die ontwerp het gepoog om die kerk as tent van ontmoeting uit te beeld (Eks. 33:7a). Die plek waar enigeen na die wil van die Here kon vra. ‘n Plek “buite die kamp”, dus anders, nie die gewone nie, ‘n plek waar ‘n mens hom-/haarself kan afsonder in gesprek met die Here (Eks 33:7b).

Aldus die vorm van die gebou, wat sterk herinner aan ‘n tent: driehoekvormig opgeslaan om wind en weer te kan trotseer met ‘n dak wat, soos die seile van ‘n tent, tot op die grond strek, sonder dat daar permanente bouwerk onder die dakseile gebou is. Die voordeur van die kerk, van ‘n entjie weg gesien, herinner aan ‘weggetrekte seile” voor die ingang na ‘n tent.

So ook is die tent self, en alles daarin, van tydelike aard omdat dit kort-kort opgeslaan moes word wanneer die Israeliete verder moes trek. Dieselfde geld dan ook vir die binnekant van die kerk, waar die idee van tydelikheid in die oorspronklike gebou sterk na vore gekom het.

Die oorspronklike ligte in die kerk was op dieselfde plekke waar die huidige ligte aan die dakkonstruksie vasgemaak is, geheg, maar was in die vorm van driehoekige fluoresserende ligbuise wat aan lang kabels uit die dak gehang het, om sodoende die hangende kandelare uit ‘n tent te simboliseer. Ook die kantligte wat tans in houtomhulsels teen die plafon voor en agterin die kerk is, was oorspronklik keëlvormige metaalkleurige ligskerms met ligte wat teen die plafon op skyn. Bo die preekstoel was ‘n breë hout ligskerm met fluoriserende buise wat eweneens aan kabels uit die dak gehang het. Om die argitek aan te haal: “Alles moet sweef”. Dit sou dan so ook die indruk skep van tydelik gehangde beligting in ‘n tent.

Die “Alles moet sweef” beginsel kan dan ook gesien word in die preekstoel self, maar veral ook in die oorspronklike kateder, wat sonder kanselkleed, ‘n plat oppervlak was wat hoër en laer gestel kon word. Hierdie kateder was nie noodwendig baie vleiend vir alle predikante nie, aangesien dit oop was en persoonlike vooruitstrewendheid van besoekende predikante nie deur die kateder verberg kon word nie. (Ons eie dominees het geweet om hul magies in te trek of genoeg oefening te doen om seker te maak die gemeente kyk na hulle gesigte en nie na die boepie onder die kateder nie!)

As ons kyk na die klankbord bo die kansel, kry ons nog die gevoel van wat die argitek probeer regkry het met die kabels wat die “swewende” klankbord vashou.

Selfs die gallery(tjie), wat die orrel huisves, moes aan hierdie vereiste voldoen, en moes selfs die trappe van so ’n aard wees dat dit ‘n leer, liewer as konvensionele trappe uitbeeld. Die ligte in die kerk se portaal was ook “swewend” en binne die beeld van aan-die-dak-opgehang.

Waar die nissies nou gebou is, was, in oorstemming met die teksgedeelte waaruit die oorspronklike argitektoniese ontwerp geneem is, ‘n losstaande kerktoring (wat ook ‘n nuwe gedagte was, en soos die ontwerp van die kerk, baie kritiek uitgelok het by oningeligtes) wat die wolkkolom versinnebeeld wat buite die ingang van die tent van ontmoeting gestaan het wanneer Moses in die tent die aangesig van die Here gesoek het. Tog jammer dat die toring (wolkkolom) wat so deel van die totale simboliek gevorm het, verwyder is. Die kerktoring het dan ook ‘n bronsklok gehuisves wat tussen drie massiewe yster I-stawe gehang het en op sigself ‘n ryk geskiedenis het.

Terug by die binnekant van die kerk, was daar natuurlik oorspronklik geen klankstelsel nie, en was die akoestiek van die kerk so dat dit nie juis ‘n probleem was nie. Aangesien daar egter veranderinge aangebring is aan die kerk self, maar veral in die gemeente verander het (wat ouer geword het en dus nie meer so goed kon hoor nie!), moes ‘n klankstelsel aangebring word wat ongelukkig ‘n aantal (onooglike) luidsprekers ingesluit het. Deels rede vir die verandering in die akoestiek van die kerk was die aanbring van kussings op die kerkbanke asook die verandering van die hoek waarteen die klankbord bo die preekstoel hang. Moderne musiek en mikrofone vir die predikante en voorsangers het natuurlik ook ‘n rol gespeel, en daarom het ons vandag ‘n kerk waar almal kan hoor wat gesê of gesing word, maak nie saak waar die prediker/sanger homself bevind nie en kan ons predikante in ‘n gewone stem met die gemeente praat liewer as met die ‘preekstem’ van ouds!

Die liturgiese sentrum (die effens verhoogte gedeelte voor in die kerk) was oorspronklik leeg, behalwe vir die nagmaaltafel, silwer beker en bord en die doopfont. Die mat op die liturgiese sentrum en ook die mat vanaf die voorportaal in die paadjies was ‘n ligte pers of purper van ouds. Op ‘n stadium is besluit om die diakens en ouderlingsbanke op die liturgiese sentrum te plaas ten einde meer plek in die kerk vir kerkgangers te maak. Oorspronklik was die eerste paar rye voor in die kerk gereserveer vir die kerkraad. Die bordjie wat aandui dat dit die kerkraad se plekke is, is nog op die rugleuning van die voorste ry in die kerk, en ook die kantreëling van die voorste banke verskil effens van dié van die res van die banke om die aantal rye vir die kerkraad aan te dui. Ek weet nie of daar ‘n rede voor was nie, maar die ouderlinge het aan die gemeente se linkerkant (dominee se regterkant) en die diakens aan die gemeente se regterkant (dominee se linkerkant) gesit!

Ook wat die opstel van die banke betref was daar ‘n ry van die bestaande banke in die agterkant van die twee syblokke wat oorspronklik nie daar was nie, en wat toegang na die kante van die syblokke verleen het. Weereens om die groeiende gemeente te akkommodeer, is twee rye banke in die openinge gesit. As mens versigtig meet (of lang bene het) sal jy die twee rye gou uitken!

Die twee sykante (vlerke) van die kerk is dan ook so gebou dat die vensters in beton “drapeersels” is, weereens om die idee van die tent na vore te bring. Oorspronklik was daar ook geredineer dat, indien die kerkgebou vergroot sou moes word, die koste aan verbouing in die rigting van die twee vlerke, relatief min sou kos, aangesien die dakstruktuur maklik verleng sou kon word in die rigting van die saal en ook in die rigting van die straat.

Die loodglaswerk aan die voorkant van die kerk is op sigself ‘n kunswerk wat die bybelgeskiedenis vanaf die skepping tot Christus uitbeeld. Tog jammer dat dit met louvres toegemaak moes word om reën en son uit te hou. Die hitte wat deur die middagson op die venster geval het, het die gallery tot so ’n mate verhit dat dit skade aan die orrel kon veroorsaak.

 

Leave a comment

Kontakbesonderhede

Kantoor-ure: Dinsdag tot Vrydag vanaf 08:30 tot 12:30

Adres: Brandstraat 70, Strand, 7140

Telefoon: 021 853 7223

Faks: 021 853 3499

E-pos: info@ngkstrandnoord.co.za

Bankbesonderhede:
Rekeninghouer: NGK Strand-Noord
Rekeningnommer: 420 580 037
Bank: ABSA STRAND-takkode 334312

Kontak ons

Kerkgebou