• Eerbied_k
  • Omgee_k
  • Samehorigheid_k
  • Standvastigheid_k
  • Verdraagsaamheid_k

Hoofstuk 2

Print Friendly, PDF & Email

 

Strand-Noord bou saal

Kom ons kom bietjie weg van harde geskiedenis, feite, datums en name met titels, voorletters en vanne, en kyk bietjie na dit wat soortvan ‘agter die skerms’ plaasgevind het tydens die groei van ons wonderlike Strand-Noord gemeente.

Daar is soveel dinge wat mens kan onthou, dat dit eintlik moeilik is om alles mooi in hoofstukke te orden sodat dit darem tot ‘n mate logiese sin maak.

Ons val dan sommer weg met ‘n paar insidente en gebeure wat ek onthou rondom die bou van die saal, en ook die geweldige hoeveelheid werk en energie wat uit gemeentelede gekom het om hierdie bykans onmoontlike taak met soveel ywer, suksesvol, tot Sy eer te voltooi.

Wanneer dit by insameling en voorvat kom, was Strand-Noord se tannies voorslag. Nie dat ek dit meer so goed kan onthou nie – ek was maar bietjie meer as vier jaar oud. Ek kan net onthou hoe my ma gebak het, popklere gemaak het, ons balonne opgeblaas het en klein swart plastiek-poppies met velletjies en krale beplak het vir die basaar se speelgoedtafel.

Ma se groenwaatlemoenkonfyt (destyds ‘n ander naam gehad) was altyd ‘n treffer, en is by die lekkergoedtafel per stuk verkoop. Die prik van daardie vier of soms vyf yslike waatlemoene se skille vir die kook van die konfyt was vir jou ‘n gedoente by die huis, hoor! My pa, ‘n baie praktiese man, het baie gou die proses van waatlemoenskil-prik gewysig om die hoeveelheid in ag te neem. Die waatlemoen is in die helfte gesny en dan is die hele helfte met ‘n skerp vurkie geprik en dan gesny!

Maar dit daar gelaat. Een van die geleenthede wat ek baie goed onthou was die gesinskonsert (darem eintlik bietjie meer van ‘n familie-konsert met gaskunstenaars!) wat ons gesin gehou het ter stuiwing van die saalfonds. Die banketsaal (nou die kombuis) was toe reeds gebou, maar daar was nog baie werk uitstaande aan die saal self. Ons het toe reeds hout opslaan-stoele gehad (dit was ‘n geskenk van Moedergemeente as ek reg onthou), sodat ons konsertgangers darem kon sit. Die banketsaal was hopeloos te klein vir die aantal ondersteuners, en meer mense het langs die kante en agterin die saal gestaan as waarvoor daar sitplek was!

Die konsertprogram verdien spesiale vermelding, aldus die nuwe paragraaf!

Dit was ‘n verskeidenheidsprogram in die heel wydste sin van woord. Ons was ‘n heel musikale (of dalk musieklike) familie, en almal het die geleentheid gekry om ‘n musiek-item te lewer. My susters het ‘n klavier-duet gelewer, my pa ‘n sangsolo. Ons almal het ‘n koortjie gesing en ekself het ‘n vertaalde (deur my ousus) weergawe van Still wie die Nacht (Stil soos die nag) gesing met my sus wat op 13 jarige ouderdom haar vierjarige kleinboet begelei. My suster en haar vriendinne het koortjies gesing en kort toneelstukkies opgevoer (destyds “items” genoem).

Ons goeie vriende, oom Dawie en tannie Annie Haarhoff, was so deel van ons gesin dat hulle aan die ‘gesinskonsert’ deelgeneem het met ‘n baie besondere item, wat ek nie dink voorheen (of ooit daarna) in ‘n kerksaal (voltooid of halfklaar) aangebied is nie. ‘n Laken is oor die voorste gedeelte van die banketsaal gespan, en met beligting van agter, het tannie Annie, bygestaan deur my twee susters en Molla, die Riel behoorlik laat lewe in ‘n skadudans teen die tuisgemaakte skerm, en op die maat van “Die hand vol vere, die hand vol vere … jy’t verniet gestry; solank die kind in die tjalie lê, lyk hy net soos jy!”, as “Grand Finale” met dawerende applous die konsert afgesluit!!

Moenie vir my vra hoeveel die konsert bygedra het tot die saalfonds nie. Daardie jare het ons nie toegang vir konserte gevra nie. Nee, daar was ‘n silwer-kollekte gehou na afloop van die konsert. Silwer was toe van ‘n tiekie (2½ c), ‘n sikspens (5 c) ‘n sjieling (10 c) twee sjielings of op die meeste ‘n halfkroon (25 c). Krone (50 c munte was bitter skaars en het nie eintlik hulle weg na die kollekteborde gevind nie. Die opbrengs van hierdie en ‘n paar soortgelyke konserte het die aankoop van suikerpotjies en skinkborde vir die kombuis moontlik gemaak, sommige waarvan vandag nog in gebruik is! Nie ‘n geweldige bydrae nie, maar dit was ‘n heerlike geleentheid wat ek na soveel jare nog so duidelik kan onthou. Dit is sulke geleenthede, en nie noodwendig die sukses daarvan nie, wat mens daardie warm gevoel gee as jy na die saal, en later die kerkgebou kyk, en jy weet: Dit is deel van my wat daar staan. Ek het ‘n bydrae gemaak tot die oprigting van ‘n plek waar God gedien word. My bitter klein bydrae het ‘n verskil gemaak in Sy koninkryk hier op aarde!

Daar is baie dingetjies wat mens nie noodwendig in ‘n storie kan saambind nie. Sommer net gebeure en kleiner feite wat onthou word, wat moontlik niks vir iemand anders beteken nie, maar tog so hier en daar vir iemand van waarde is. Interressante feite rondom die bou en funksies van die saal.

Die kerkraad van daardie jare het groot gedink. Die saal was, vir sy tyd, groot en modern. Van die konstrukturele oorwegings was bedoel om meerdoelig te wees, soos byvoorbeeld die deel onder die verhoog, wat van voor af die hele wydte van die verhoog van die saal se kant af bereikbaar moes wees sodat as stoorplek vir die stoele kon dien, maar ook kon dien as “orkes-put” indien daar een of ander uitvoering sou wees waar ‘n orkes nodig was! So ook is daar ‘n yslike deur aan die Brandstraat kant van die saal gebou sodat dekor gebou en dan sonder moeite op die verhoog van agter af afgelaai kon word. ‘n Ry klein vensters was agter hoog teen die plafon van die verhoog aangebring vir ventilasie en lig agterin die vehoog. Juis hierdie ry vensters sou ‘n interressante insident veroorsaak voor die inwyding van die saal! ‘n Permanente geboude projektorkamer agterin die saal waaruit flieks by tye gewys kon word was deel van die oorspronklike ontwerp, en skyfievertonings gehou was van sendelinge uit die “verre sendingvelde”. Self Ds PAM Brink se jag-films was by tye daar gewys met die onvermydelike vassit en brand van die 8mm film, gewoonlik op die mees kretieke stadium van die rolprent! Die film is net daar weer reggemaak (ge’splice’), en na ‘n paar minute se wag, net na die brandkol voortgesit!

Hierdie fliekwysery het een Vrydag vir groot konsternasie gesorg toe ‘n film met die naam “The Man who Laughed” verkeerdelik as ligte vermaak vir die kinders aan die gang gesit is, die projektorkamer onbeman gelaat is, en die arme bloedjies aan ‘n wrede en soms (vir daardie tyd) totaal onaanvaarbare tonele blootgestel was! Ek verdoesel liewer die detail hiervan!

Min mense weet dat die saal bedraad is vir gehoorstukke vir hardhorendes! Die bedrading is ondervloers en het gehoorstukke bedien wat sentraal in hout-kassies aan die opvou-houtstoele in die saal geplaas is. Die gehoorstukke was sulke enkel oor-grootte bakkeliet luidsprekers wat aan lang handvatsels vas was en wat dan maklik teen die een oor gehou kon word.  Die probleem was egter dat die gehoorstuk-kassies noodwendig aan die rugleuning van ‘n stoel aan die paadjie se kant vasgemaak is, wat by tye ‘n effens ongemaklike situasie tot gevolg gehad het:

Sien, as ‘n hardhorende oom of tannie (en ek spot nie, hoor!) wou seker maak dat hy of sy die preek goed kan hoor, moes hy of sy noodwendig voor die tweede gelui al plek inneem – daar waar die gehoorstuk-kissie is. Dit beteken egter ook dat hy of sy nie kan opskuif as daar mense in dieselfde ry wil kom sit, maar effens later eers die kerk binnekom nie. So het dit dan ook gebeur dat ‘n ‘vreemde’ oom (wat ook hardhorend was) op die stoel gaan sit het waar een van ons gemeente se bekende en gereelde kerkgangers (ook hardhorend) gewoonlik plek ingeneem het. Verbeel jou nou die konsternasie toe die een oom vir die ander probeer verduidelik dat hy by die gehoorstuk wil sit, en dat die ander moes opskuif, terwyl die ander oom probeer verduidelik dat hy juis daar sit omdat hy self die gehoorstuk wil gebruik. Neem in ag dat gehoor-toestelle in daardie era nie gevorderde tegnologiese instrumente was nie, maar battery-aangedrewe affêres wat ‘n oorstukkie met ‘n draad aan ‘n ontvanger gekoppel het, en wat jy aan die buitekant van jou hempsak moes dra. Bygereken dat die hempsak onder die pak klere se baadjie was en dus nie so duidelik kon opneem nie, en jy het ‘n resep vir voor-kerklike agressie teen meer desibels as wat normaalweg as aanvaarbaar gereken was tydens die gewyde stilte voor die aanvang van die oggenddiens!

Hoe die saak besleg was, weet ek nie meer nie. Ek weet darem dat Ds Okkie altyd ‘n manier gehad het om mense rustig te kry.

En so van ds Okkie gepraat: Die hang van die kerksaal (wat toe ook as ons kerkgebou Sondae diens moes doen) se verhoog-gordyn was ‘n besondere geleentheid. Dit het die laatmiddag/aand van die Saterdag voor die amptelike indiensneming van die kerksaal plaasgevind, en die besluit was dat einste ds Okkie, en die oudste emeritus in die gemeente, toe ‘n ds Odendaal, die spesiale funksie sou verrig. Nie dat hulle die hele sware gordyn sou hang nie, maar hulle sou net die laaste paar hake aan die gordynreëling vashaak.

So gesê, so gedaan, en daar word met groot afwagting gekyk hoe ds Okkie bo-aan die trapleer (die hout-soort wat op sy beste na ‘n jaar of wat se gebruik maar redelik lendelam raak) bestyg om hierdie besondere eer hulle tebeurtgeval, met die nodige waardigheid te voltrek. Die laaste haak was seker bietjie te ver buite ds Okkie se bereik, met ds Odendaal wat die gordyn vashou terwyl hy op ‘n laer sport op dieselfde ‘steppie’ staan en swaartekrag weet nie van waardigheid en spesiale geleenthede nie. Die gevolg was dat ds Okkie, in sy jonkheid, van die leer probeer afspring en sy been breek, en ds Odendaal in sy waardige oudheid, gewoon maar val en naas ‘n paar blou kolle en ‘n stywigheid in die spiere die volgende oggend, skadeloos daarvan afkom!

Die gevolg: ds Okkie Raubenheimer gaan deur die plegtige inwyding van die kerksaal op krukke en met ‘n spierwitgegipste been. Nie dat dit hom weerhou het van sy swart pak en toga nie – die broekspyp is geknip en ds Okkie was op die verhoog agter die kateder in volle pastorale drag toe sy plig hom roep!

Kontakbesonderhede

Kantoor-ure: Dinsdag tot Vrydag vanaf 08:30 tot 12:30

Adres: Brandstraat 70, Strand, 7140

Telefoon: 021 853 7223

Faks: 021 853 3499

E-pos: info@ngkstrandnoord.co.za

Bankbesonderhede:
Rekeninghouer: NGK Strand-Noord
Rekeningnommer: 420 580 037
Bank: ABSA STRAND-takkode 334312

Kontak ons

Kerkgebou